Local newsNews

Metro-memorandum nou in plek vir Eersterust-burgersentrum se herstel

"Die burgersentrum sal omtrent R2-miljoen benodig om ten volle herstel en onderhou te word,” sê metrowoordvoerder Selby Bokaba.

Herstelwerk aan die vervalle en verwaarloosde konsert-ouditorium van die Eersterust-burgersentrum sal vandeesweek op 11 Maart begin.

Die projek word afgeskop nadat die burgemeester, Cilliers Brink, op 7 Maart ’n werksooreenkoms onder die nuwe Gemeenskapsverbeteringdistrik-program (CUP) met die kerkbediening One Heart Eersterust onderteken het.

Tshwane burgemeester Cilliers Brink

Werner Nel, pastoor van die bediening, sê alhoewel hulle nie die konsert-ouditorium vir hul eie funksies ten volle kon opknap nie omdat hulle vir toestemming moes wag, sal hulle by hul belofte hou om ’n beter gerief agter te laat as wat hulle gevind het.

“Ek is egter steeds beïndruk met hoe vinnig die metro vir ons kon goedkeuring kry. Dit het net vier dae geneem,” sê Nel.

Nadat al die regte prosedures in plek gestel is en die regte protokolle rondom die aansoek gedoen is, is goedkeuring verleen.

Hierdie goedkeuring gee egter nie die groep alleenreg tot die burgersentrum nie.

One Heart Eersterust-pastoor Werner Nel

Nel is verder bemoedig deur die metro se vinnige optrede om ’n ooreenkoms aan te gaan.

Volgens die bepalings van sulke memorandums vir verbeteringsdistrikte se opknapping (aangekondig aan die einde van 2023) kan besighede en gemeenskappe nou formeel betrokke raak in hul omgewing in terme van onderhoud en verbetering.

Projekte soos die plant van blomme, sny van gras, herstel van sypaadjies, slaggate en geboue kan aangepak word. Elke projek kry sy eie operasionele model.

Nel het verlede week veral met sy jeugbediening, 1 Heart Youth Development, skole in Eersterust besoek. Hy is al meer as ’n jaar betrokke by die Eersterust-gemeenskap.

Tshwane health department honours outstanding clinics at awards ceremony

Hy verduidelik hy het goeie reaksie van kerke en skole gekry met verlede week se uitreik-aksie.

“’n Hele paar lede van die gemeenskap het geskakel en hulp aangebied met die opknapping van die konsert-ouditorium en aanliggende vertrekke,” sê Nel.

Hy sal vandeesweek met ’n selfdoengroep die ouditorium en omliggende vertrekke begin opruim.

Dramaturg Anthony Skhaidy

Die projek het afgeskop toe Nel ook die konsert-ouditorium vir die teatermaatskappy van dramaturg, Anthony Skhaidy, vir ’n moontlik eersdaagse opvoering van sy blyspel, Change – The Musical, op standaard wou kry.

Skhaidy sê hy het ook besoek gekry op 7 Maart vanaf amptenare by die metro se kuns- en kultuurdepartement.

“Dit is nou die eerste wat ek van hulle hoor sedert my navrae vroeg Januarie begin het,” verduidelik Skhaidy.

Hy het hulle ingelig dat die nuut gestigte Tshwane East Arts and Culture Commission en Phoenix Theatre Company se projekte reeds ’n aanvang geneem het ten spyte van ’n gebrek aan geriewe om sulke projekte te loods.

Skhaidy het die metro versoek om die voormalige Eersterust Arts and Culture Forum te ontbind en hul gewig agter die nuwe organisasie se projekte te gooi.

“Ons wil graag ’n mandaat kry om die kunste en geriewe daarvoor in Eerstetrust, soos die burgersentrum se ouditorium, in samewerking met ander rolspelers te ontwikkel,” sê Skhaidy.

Hy benadruk hy het by die metro aangedring op ’n skedule en tydlyn van hoe dit die burgersentrum se herstelwerk gaan ondersteun.

Metrowoordvoerder Selby Bokaba sê Streek 6 is die metro se huidige bestuurders van die Eersterust-burgersentrum en dus ook van geriewe wat deel daarvan is soos die konsert-ouditorium.

“Hulle is bereid om die geriewe op te knap en te herstel indien die begroting dit toelaat,” sê Bokaba.

Hy bevestig ’n onderhoudslys is reeds opgestel vir die burgersentrum in geheel.

“Die burgersentrum sal omtrent R2-miljoen benodig om ten volle herstel en onderhou te word,” sê Bokaba.

Ingang na die Eersterust-burgersentrum.

Hy bevestig daar is tans geen toelaag of subsidie beskikbaar van die metro se kant vir kultuurprogramme nie.

“Die metro kan egter groepe wat van gemeenskapsentrums vir hierdie doel gebruik wil maak, tegemoetkom met onderhandelings oor die huurgeld van geriewe,” sê Bokaba.

Hy raai sulke gemeenskaplede aan om versoeke aan Jothan Baker by die metro se kuns- en kultuurdepartement te rig.

Die Pretoria Sakekamer het in die lig van sulke memorandums ’n beroep op hul lede gedoen om by die metro se opknappingsprogramme van verbeteringsdistrikte in hul eie omgewing aan te sluit.

Voorsitter van die Sakekamer, Fergus Ferguson, sê dit is ’n gulde geleentheid om doeltreffend beheer te neem van ’n mens se onmiddellike omgewing.

“Dit kan ’n werklike verskil aan die voorspoed van gemeenskappe maak,’ sê Ferguson.

Sakemanne wat ’n CUP-model in hul omgewing wil realiseer, kan die Sakekamer kontak vir ’n afskrif van die CUP-ooreenkoms. Die Sakekamer is ook bereid om die ondertekening van sulke ooreenkomste te fasiliteer. Meer inligting by admin@pretoriasake.co.za.

Inwoners in oos-areas keelvol vir metro se verskonings

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button