Local newsNews

Inwoners in oos-areas keelvol vir metro se verskonings

Inwoners in drie wyke in die ooste van Pretoria is moedeloos oor die metro se oënskynlike wanbestuur van hul klagtes rondom elektrisiteits- en watertoevoerprobleme.

Die inwoners van die spoggerige en gevestigde Highstraat in Ashlea Gardens noem hul straat ’n “oorlogsone”.

Sommige verwys daarna as “die slegste straat in Pretoria om in te woon”.

Maar dit is nie net hierdie een straat in Ashlea Gardens wat nou al vir twee jaar gebuk gaan onder voortslepende watertoevoerprobleme en kragonderbrekings nie.

Ook in naburige Alphen Park en Maroelana loop belastingbetalers deur onder die metro se beweerde gebrek aan aandag aan hul klagtes – veral rondom Highlands-kragstasie.

Meer as 82 000 inwoners word hierdeur geraak.

Gastehuiseienaar Mientjie Wooldridge sê sedert September 2022 was daar net een week wat haar woning en perseel beide water en krag gehad het.

Sy het meer as 49 keer klagtes aanhangig gemaak by die metro en die burgemeesterskantoor.

Wooldridge het haar eerste klagte oor die kragonderbrekings en watertoevoerprobleme op 19 September 2022 ingedien.

Sy is deel van ’n groep mense wat in die tydperk van September 2022 tot Maart vanjaar al vir tydperke van 12 dae lank sonder krag was.

Vir die eerste keer in die 46 jaar wat sy ’n gastehuis in die buurt bedryf, kan sy nie gaste inneem nie.

“Wat help dit om besprekings in te neem? My gaste kan nie stort, kos maak of van hier af werk op hul rekenaars nie. Elke keer moet ek hulle net terugbetaal,” sê sy.

Sy verduidelik hoe inwoners goedgelowig gereeld op beloftes van die metro en metro-kontrakteurs staat maak net om weer in die steek gelaat te word.

“Na die beloftes van die metro dat als nou reg is, koop ons kos, net om weer te sien hoe die vleis weer vol wurms word met kragopbrekings,” vertel sy. “As ons wel die slag dalk water het, is dit dikwels vrot en bruin.”

Volgens haar is hierdie probleme nie aan beurtkrag toe te skryf nie.

“Beurtkrag is ’n Sondagskoolpiekniek teenoor wat ons moet verduur,” meen sy.

Sy word gereeld deur mense gevra hoekom verhuis sy dan nie.

“Ek is finansieel so gebreek deur hierdie stand van sake, ek kan nie verhuis nie. Dit alles omdat ek vasgehou het aan die metro se beloftes,” sê sy.

Wat haar en ander inwoners soos argitek Mignon Oosthuizen frustreer, is juis die verskonings wat deur die metro gemaak word.

“Elke keer is daar ’n ander verskoning,” sê Oosthuizen.

’n Ontwortelde boom van ’n onlangse storm word self deur gemeenskapslede opgesny en verwyder. Foto: Elize Parker

Sy glo nie meer ’n enkele belofte van die metro nie. “Dit is leë woorde. Hulle praat baie, maar niks verander nie.”

Volgens haar gee die metro redes aan soos kabeldiefstal, verslete waterpype en bome wat kabels tydens storms breek.

Inwoners in die buurte soek ’n onderneming by die metro: ’n 2024-winter met deurlopende elektrisiteit en skoon water 24-uur van die dag.

Inwoner Jaco Joubert glo die kundigheid van kontrakteurs wat die metro gebruik vir herstelwerk, is nie op standaard nie en dat die toesig oor die kontrakteurs se werk te kort skiet.

Joubert is ’n voormalige adjunk-stadsingenieur by die stadsraad van Mbombela en was vantevore verbonde aan Centurion se stadsingenieursafdeling.

Hy het Rekord na sub-kragstasies geneem wat volgens hom nie eers oopgemaak word indien inspeksies wel gedoen word nadat klagtes aangegee is nie.

“Mens moet darem weet om in ’n substasie te kyk waar is die fout as ’n kragonderbreking gerapporteer word,” meen Joubert.

Volgens hom is daar dikwels metro-waterpype wat in die straat of sypaadjies bars en water “spoel soos riviere straatlangs”.

Van die inwoners voel van hierdie koste word moontlik op hul waterrekenings aangegee.

Hy glo die kabel- en netwerkprobleme is oplosbaar. Sy mening is die diens van die kontrakteurs los egter nie die klagtes op nie, maar skep dikwels eerder verdere probleme.

“Dit is ’n bestuursprobleem wat op topstruktuur aaangespreek moet word. ’n Vis vrot van sy kop af. Die metro se eie mense moet ook vasgevat word want die kontrakteur kom byvoorbeeld uit sonder diagramme of planne vanwaar hulle moet werk,” meen Joubert.

“Die metro moet vir die oplossing van klagtes, ook veral rondom die Highlands-kragstasie pa staan en kan nie langer die blaam verskuif na kontrakteurs of op ander plaas nie.

“Kontrakteurs moet aan hul kontrakte gehou word, daar moet boetes wees indien herstelwerk onvolledig is en daar moet by tydlyne gehou word,” glo Joubert.

“Die metro is in beheer en moet sorg dat hulle in beheer bly,” voeg hy by.

’n Vergadering deur wykraadslede word vir 14 Maart om 18:00 by die The Grand Lounge in die Pretoria Country Club beplan om onder meer kragonderbrekings te wyte aan die Highlands-substasie te bespreek.

Vrae is aan die metro gerig oor die klagtes van inwoners, maar antwoorde is nie teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button