EntertainmentLocal newsNews

Rudi Claase staan uit siekbed op om vertoning saam met Nederlandse sterre te gee

Skaars twee maande gelede het een van Afrikaanse musiek se mees produktiewe liedjieskrywers uit 'n koma van sewe weke lank wakker geword. Teen die einde van Februarie het hy op die verhoog verskyn om ou en nuwe liedjies sowel as sy belewenis gedurende sy siekte met bewonderaars te deel.

In November was sanger en liedjieskrywer Rudi Claase nog in ’n koma. Daarna moes hy weer leer loop en praat, en selfs weer leer sing.

Vir hom was die konsert waarin hy saam met twee van Nederland se topkunstenaars, Belinda Kinnaer en Patrick van Bree, op 25 Februarie sou optree sy mikpunt om te herstel.

Die Sewe Oseane/Zeven Oceanen – Van Nederland tot Suid-Afrika-konsert het gevolg kort nadat hy vanjaar sy sewende operasie in ’n jaar vir ’n ingewandsiekte ondergaan het.

Claase was nog swak en het nie te dikwels tydens die vertoning vanaf die klawerbord opgestaan nie.

Die waarderende gehoor het sy staaltjies oor sy siekte en verblyf in die hospitaal sowel as sy vertolking van ou en nuwe liedjies, deernisvol toegejuig.

“Julle moet maar hoop ek kan die hoë note haal,” het hy vooraf ’n pleidooi gerig.

Dit was egter veral Claase se erkennings aan God vir sy herstel wat die gehoor aangedaan gelaat het. Hy was sewe weke lank in ’n koma.

“God is goed,” het Claase aan die begin van sy optrede gesê.

Hy het daartydens telkens anekdotes uit sy hospitaalbed tussendeur liedjies geweef asook van die medici bedank wat hom behandel het en die vertoning bygewoon het.

Rudi Claase tydens sy verblyf in die hospitaal. Hy was sewe weke lank in ‘n koma. Foto: Verskaf

Hy het ook ’n bewonderaar uitgewys wat hom elke môre met haar daaglikse vraag van “Hoe staan sake nou?” bemoedig het.

Claase het vertel hoe hy deur die loop van 2023 stelselmatig al hoe sieker geword het.

Hy het met sy verhoogvertellings die oorsaak selfs so ver gaan haal as toe hy op ’n besonderse jong ouderdom ’n gebarste blindederm gehad het en nooit weer werklik daarvan herstel het nie.

Die Claase-egpaar, Rudi en Suzette (regs) het die vertoning saam met Nederlandse sterre Belinda Kinnaer en Patrick van Bree ook gebruik om hul vyf jaar lange verbintenis stywer te knoop.

Claase en sy vrou, Suzette, se vriendskap met die Nederlandse sterre kom ’n ver pad.

Kinnaer het ’n groot treffer met haar vertaling van Claase se liedjie “Sewe oseane” in Nederland gehad.

In Suid-Afrika het die liedjie bekend geword toe die geliefde sangeres van die Paarl, Andriëtte Norman, haar vertolking daarvan in 2014 uitgegee het.

In Februarie 2019, het Kinnaer Claase na Nederland genooi om aan haar 20-jaar jubileumkonsert deel te neem.

Haar vertaling van sy “Sewe oseane” het goudstatus in Nederland bereik.

Claase het saam met name soos Ancora en Jan Keiser in ’n uitverkoopte vertoning opgetree.

Sy nuutste solo-album Liedjieskrywer was in 2021 vrygestel en het die Afri-Indie-toekenning gewen vir Beste album en Beste solo kunstenaar.

Hy skryf steeds vir die land se grootste name in die bedryf.

Dit is minder bekend dat die boorling van Vereeniging wat nou woonagtig is in Centurion, al 700 liedjies geskryf het wat in talle albums opgeneem is.

In 2019 het hy ’n eretoekenning van die ATKV ontvang vir sy reusebydrae tot Afrikaanse musiek.

Die sjarmante Van Bree het met sy gemaklike verhoogmanier en ’n stem wat aan Engelbert Humperdinck herinner, ook ’n duet saam met Claase gesing.

Van Bree se weergawe van “Please release me” het die gehoor teruggeneem na die nostalgiese sestigerjare, ’n era waaruit hy graag liedjies vertolk.

Die opregte vriendskap tussen die Nederlandse paartjie en Claase het vir ’n sekere soort innige bekoring op die verhoog gesorg veral met die vertolking van die ikoniese Leonard Cohen-lied “Hallelujah”.

“Ek hou daarvan om saam met hiedie tweetjies op te tree. Hulle is plat op die aarde en uiters professioneel,” het Claase op die verhoog komplimente toegeswaai.

Die hoogtepunt van die vertoning was die vertolking van die liedjie “Bed of Roses” deur Kinnaer en Van Bree, ook ’n liedjie wat die paartjie op hul troudag saamgesing het.

Kinnaer het ook met haar vertolking van die liedjie “Falling Leaves” haar bewondering vir sangeres Eva Cassidy bely en ’n sielvolle weergawe van die liedjie gelewer.

Vir Claase was die grootste kompliment die gehoor se waarderende en deernisvolle reaksie op sy bekentenis oor hoe sy drankverslawing hom in ’n rehabilitasiesentrum laat beland het en hoe hy daar platgeslaan die liedjie “Hobo Halleluja” geskryf het.

Moontlik is dit juis hierdie vereenselwiging met gewone mense se alledaagse probleme en kwessies wat Claase diep in sy gehoor se harte laat inkruip het.

Claase sê hy hoop om spoedig verder te herstel en stel vir homself weer ’n mikpunt: Die konsert met ’n geestelike aanslag, Afrikaans het Gees.

Belinda Kinnaer en Patrick van Bree

Hy is regisseur en impressario van dié konsert waartydens groot name in die gospelwêreld ook saam met hom op 24 Augustus in die Moreletapark-gemeente se ouditorium sal optree.

Hy het volle hoop op algehele herstel. “Ek het soveel nader aan die Here beweeg met my siekte en herstel. Ek gaan hierdie tydjie tot Augustus met geestelike vertroue aanpak.”

– Kliek hier om na Rudi Claase en die Nederlandse sterre te luister: https://www.facebook.com/RudiClaase/videos/800546031911937

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button