Local newsNews

Metro het geen geld vir haweloses

'n Inwoner van Pretoria Noord meen 'n volhoubare oplossing moet in plek geplaas word vir haweloosheid. Die metro het 'n beleid in plek, maar egter geen begroting om nie-winsgewende organisasies wat met haweloosheid werk, te ondersteun nie.

Die inwoners van Tipuana Park kompleks in Lavenderweg, Pretoria Noord is beter daaraan toe nadat die metro gehoor gegee het aan hulle versoek.

Hulle het die metro gevra om ’n einde te maak aan die rotteplaag en onhigiëniese omstandighede rondom onwettige besetters op ’n munisipale eiendom aangrensend tot die kompleks.

Die stadsbestuur van die welsynafdeling het ook volgens inwoners onderneem om met die sluipslapers te onderhandel om eerder behuising in skuilings vir haweloses te vind as om in stormwaterkanale en op die munisipale terrein te woon.

Martie Landman, woordvoerder van die kompleks, sê hulle is dankbaar vir die stadsamptenare se ingryping.

Sy voel hulle het bykans onmiddellik ingetree nadat sy die situasie aan die Rekord en Neels Hattingh van die Vryheidsfront uitgewys het.

Landman het uit desperaatheid sedert Augustus verlede jaar aan verskeie deure geklop om ’n oplossing te vind.

Sy het telkens voor ’n toe deur te staan gekom.

“Die gesondheidsinspekteur het met hul evaluering gesê hulle het nie besef die rotte-plaag is so erg nie en rottegif is uitgeplaas om dit te beheer,” verduidelik Landman.

Volgens haar het die metro ook onderneem om die stormwaterkanaal skoon te maak van opgehoopte vullis.

Bome op die munisipale terrein se oorhang is ook reeds gesnoei en die takke is weggery.

“Ons is egter meegedeel deur die metro se amptenar so ’n skoonmaakoperasie kan net een keer ’n jaar plaasvind aangesien die metro nie geld het nie,” sê Landman.

“Eerlikwaar, hulle geldtekort is nie ons probleem nie. Hulle moet hul geld beter bestuur,” meen sy.

Sy voel ’n volhoubare oplossing moet in plek gestel word vir haweloses in die area, veral ten opsigte van diegene wat toenemend in hul buurt in stormwaterkanale en afvoerpype slaap.

Volgens ’n peiling van die Universiteit van Pretoria was daar in 2022, 4 177 hawelose individue in Tshwane.

Volgens ’n landswye sensus in 2022 het Pretoria die hoogste persentasie hawelose individue (18.1%) gehad van die landsbevolking.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die metro het in 2019 die Tshwane Straathaweloosheid-beleid aanvaar.

Hierdie amptelike beleid geld as bloudruk vir die lewering van metrodienste aan haweloses.

“Die beleid maak voorsiening vir die akkommodasie van haweloses in skuilings. Wanneer haweloses dus in publieke ruimtes geïdentifiseer word, moet die metro welsynswerkers stuur om ’n evaluering en voorstelle te maak om moontlik sulke individue in skuilings te plaas,” verduidelik Mashigo.

Hy benadruk dat slegs indien die hawelose of straatgebaseerde individu toestem om in ’n skuiling ’n heenkome te vind, sal die welsynwerker reëlings vir plasing in ’n skuiling mag tref.

“Welsynwerkers het nie die gesag om haweloses of straatgebaseerde individue kragdadig uit enige publieke ruimtes te verwyder nie. Indien daar egter wel onwettige besetters op munisipale eiendom is wat weier om so ’n eiendom te verlaat, het die metro geen ander opsie as om ’n regsproses in momentum te kry nie,” beklemtoon Mashigo.

“Dit beteken die metro mag die hof as eienaar van die eiendom nader met ’n bewys dat alternatiewe woonplek of akkommodasie aan die onwettige besetter aangebied, maar afgewys is. Daar mag dan deur die metro om ’n ontsettingsbevel aansoek gedoen word,” sê Mashigo.

Hy sê die metro het nie fondse om ’n program vir haweloses uit te rol nie.

“Daar is tans geen fondse om toe te ken aan nie-winsgewende organisasies wat met haweloses werk nie,” verduidelik Mashigo.

“By wyse van fondse van die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, het die metro egter ’n reëling vir haweloses in plek,” sê Mashigo.

Volgens hom kry 1 500 individue hiervolgens drie maaltye per dag, vaardigheidsontwikkelingsprogramme en sielkundige ondersteuning by sekere skuilings.

“Hierdie provinsiale regeringsfondse word ook gebruik vir uitreikprogramme om haweloses te werf om na skuilings te gaan,” bevestig Mashigo.

“Die stadsraad voorsien ook van sy geboue wat nie gebruik word nie aan nie-winsgewende organisasies om hierdie ruimtes in te rig as skuilings vir haweloses,” beklemtoon Mashigo.

Gegewe die metro se benarde finansiële posisie, is dit volgens Mashigo beter vir die metro om nie self skuilings te bou en te bedryf nie, maar om eerder op ander maniere nie-winsgewende organisasies te help.

Hy wys daarop dat die metro se Kosbank ook kos uitdeel aan organisasies wat met haweloses werk.

Lees: Skoolseun van Menlopark verbeter krieket wêreldrekord met kolf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button