High SchoolLocal newsNewsSchools

Drie oosskole as topdrie in Gauteng aangewys

Drie hoërskole in die ooste van Pretoria is as die drie top akademiese skole in Gauteng aangewys. Saam het die drie skole se leerders meer as 2 200 onderskeidings verwerf.

Drie skole in die ooste van Pretoria het die sonderlinge prestasie behaal om die drie bes presterende skole in die matriekeindeksamen van 2023 in Gauteng te wees.

Die skool wat die beste presteer het in Gauteng is Hoërskool Garsfontein met ’n 100%-slaagsyfer en 97.62 % universiteitstoelating.

Die Garsfontein-matriekleerders het gesamentlik 742 onderskeidings met twee leerders wat nege onderskeidings behaal het en vyf leerders met agt onderskeidings elk.

Die Hoërskool Waterkloof is aangewys as die nommer-2 skool in Gauteng.

Die skool se matrieks het gesamentelik 767 onderskeidings behaal en ’n 100% slaagsyfer vir die 34e jaar.

Sewe-en-twintig kandiddate verwerf sewe of meer onderskeidings.

Sedert 2008 is dit die tiende keer wat Hoërskool Waterkloof in die top-10 akademiese skole in Gauteng aangewys word.

Die Hoërskool Menlopark het die derde beste in Gauteng gevaar en die skool is derde topskool.

Die matriekleerders van Die Hoërskool Menlopark het ’n 100%-slaagsyfer behaal met 98% graadvrystelling.

Die leerders het gesamentelik 746 onderskeidings verwerf met drie leerders wat elk nege onderskeidings behaal het.

Die Hoërskool Menlopark het ook die tweede hoogste persentasie graadvrystelling.

Sheliza de Wet, die skool se hoofdogter van 2023, is toppresteerder in Gauteng in Engels FAL (First Additional Language) en span die kroon met die algehele eerste plek in Gauteng.

Die waarnemende skoolhoof, Nico Erasmus, sê die skool werk vir die afgelope 60 jaar baie hard daaraan om ’n kultuur van toewyding en harde werk in elke leerder te vestig.

“Die resultate wat ons behaal is konsekwent en die skool is elke jaar een van die topskole in die land. Ons is dankbaar om ’n ongelooflike span onderwysers te hê wat toegewyd en passievol is oor hulle vakgebiede en die leerders in die skool,” verduidelik Erasmus.

Hy sê daar word hard gewerk van graad 8 tot graad 12 om leerders voor te berei om die lewe gebalanseerd aan te pak.

“Ons is dankbaar vir die voorreg om te kan presteer en ons weet dat dit met baie harde werk en genade gepaard gaan. Ons wens graag al die personeel wat ’n rol gespeel het by hierdie leerders geluk en ons wens elke matrikulant van 2023 net die beste vir die toekomspad toe,” sê Erasmus.

Die skoolhoof van Hoërskool Waterkloof, Chris de Denysschen, sê die matriekuitslae van die 2023-matriekleerders van die skool is voortreflik en uitnemend.

“Ek is so in my noppies met die fantastiese uitslae. Daar is nie een gemengde skool in Suid-Afrika wat vir 34 jaar in ‘n ry ‘n 100% persent slaagsyfer het nie. Hierdie matriekleerders van 2023 maak my ongelooflik trots. Ons buurskole moet hierdie spasie dophou. Ons wil graag nommer een wees volgende jaar!”

*Neem kennis dat hierdie artikel gewysig is

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button