High SchoolLocal newsNews

Matriekklas van 2023 verheug met uitslae

Leerders van twee hoërskole in die ooste van Pretoria mik hoog met hul prestasies.

Die groot afgwagting vir die matriekklas van 2023 se uitslae is finaal verby nadat leerders vanoggend in hul hordes opgedaag het om hulle punte onder oë te kry.

Vir die 34e agtereenvolgende jaar, behaal Hoërskool Waterkloof ’n 100%-slaagsyfer.

Altesaam 323 kandidate het die eksamen afgelê met 313 wat toelating tot graadstudies het.

Die matriekklas se gemiddeld is 70.45% en ’n totaal van 27 kandidate spog met sewe of meer onderskeidings.

Die hoof van Hoërskool Waterkloof, Chris Denysschen, sê dis die grootste rekord wat ’n dubbelslagtige skool nóg in Suid-Afrika het.

“Ons is sowaar opgewonde. Die kinders het fantasties gedoen. Klas van 2023! Julle het ons trots gemaak.”

Miah Prinsloo is die topkandidaat met nege onderskeidings – agt as Alpha wiskunde nie bygereken word nie.

“Ek het baie hard hiervoor gewerk.”

Miah Prinsloo.
Voor: Wilna Mertz en Wilmarie Nolte. Agter: Minke van der Mescht, Lea Theron en Julia Volschenk.

Prinsloo het 99% vir wiskunde asook rekeningkunde behaal.

Sy wil graag mediese wetekenskappe studeer, maar is nog onseker of sy na die Universiteit van Kaapstad toe wil gaan óf Tukkies.

“Ek is ’n regte boekwurm en of dit nou op my eie is, of saam met mense, ek kuier graag by ’n restaurant.”

Chanté Venter, wat deel van Waterkloof se top-10 is, het geweet dit gaan nie ’n maklike prestasie wees nie.

“Ek is verheug oor my uitslae.”

Van haar gunstelingvakke was wiskunde, wetenskap en biologie.

“Ek wil graag in Bloemfontein mediese wetenskap gaan studeer.”

Vir pret, doen Venter graag modelwerk, fotografie en sy is ook lief vir oefen.

“Ek het sport op skool gedoen, maar in my laaste jaar het ek baie op my akademiese skoolwerk gefokus.”

Kayla Landsberg, het sewe onderskeidings agter haar naam geskryf.

“Ek het wetenskap geniet, maar ek het nie so lekker aan die tweede vraestel geskryf nie.”

Haar planne is om arbeidsterapie by die Universiteit van Pretoria te gaan studeer.

Rigard, Juan en Lizette de Wet.
Tiaan Greeff en Eduan Naudé.

Hoërskool Garsfontein behaal ’n 100%-slaagsyfer met 97.62% wat toegang tot universiteitstoelating het.

Die graadhoof van die matriekgroep, Gertrouda Louw, sê dat die skool oneindig trots is op elkeen van die leerders.

“Ons staan in verwondering oor die seën wat oor ons uitgestort is.

“Daar wag op elkeen ’n blink toekoms en mag al julle drome bewaar word.”

Kirsten Boshoff, wat sewe onderskeidings ingepalm het, meld vanjaar by die Universiteit van Pretoria as BCom Rekeningkundige wetenskappe student aan.

“Ek wil graag netbal speel. As ek tyd op hande het, sal ek graag nog stokperdjies wil beoefen.”

Johan Nel, wat onder die top-10-kandidate van Garsfontein tel, het agt onderskeidings behaal, met ’n persentasie van 97% in wiskunde.

Nel, wat medies op Tuks gaan studeer, sê dat die eindeksamen nie so rof soos die rekordeksamen was nie.

Willan Trollip.
Ross Carstens.

Ross Carstens is tevrede met dit wat hy ingesit het en uitgekry het.

“Ek het nie verwag om sewe onderskeidings te kry nie. Ek het besluit om chemiese ingenieurswese, ook by Tuks, te studeer. Ek het nog altyd in hierdie rigting belanggestel. En wie weet? Dalk staan ek in die toekoms as Professor Carstens bekend.”

Volgens die Departement van Onderwys, is die slaagsyfer van die matriekklas van 2023, 82.9% – om en by 2% beter as die vorige jaar se uitslae.

Om en by 900 000 leerders het die eksamens afgelê.

Lees ook: Pretoria oos se graadeens ywerig om hul skoolloopbaan af te skop

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button