Local newsNews

Pretoria oos se graadeens ywerig om hul skoolloopbaan af te skop

“Welkom terug aan ons leerders vir 'n buite-die-boks-avontuur en 'n dubbel-allemintige feestelike skooljaar!” sê Annieka Moolman, adjunkhoof van Laerskool Constantiapark.

Die 2024-skooljaar is in volle swang.

Die spruitjies van laerskole Elarduspark en Menlopark asook Constantiapark was Woensdagoggend reeds slaggereed vir die skooljaar wat Woensdag amptelik begin het.

Isabella Johnson.

Hoof van Elarduspark, Toy Human, noem dat dit ’n groot voorreg is om al die nuwe graad 1-leerders te verwelkom.

“Dit is ook lekker om res van die leerders se gesiggies weer te sien. Ons was nog nooit so reg vir julle soos nou nie. Werk hard hierdie jaar, kry jou doelwitte agter mekaar en kom ons reik saam na die sterre.”

Laerskool Elarduspark se 10 graad 1-onderwysers het altesaam oor die 129 jaar se ondervinding.

Die slimkoppies word in Afrikaans, Engels, Wiskunde, Lewensvaardigheid, Robotika, Sepedi en Skaak onderrig.

Altesaam 34 van die graad 1 se mammas en pappas is oud-Lardie Legendes.

Tany Nastaly en Emmalien Stander.
Adriaan Saayman en Christiaan Diedericks.

Laerskool Constantiapark se adjunkhoof, Annieka Moolman, verwelkom ook graag al die RooiKatte en RooiSkatte.

“Welkom terug aan ons leerders vir ’n buite-die-boks-avontuur en ’n dubbel-allemintige feestelike skooljaar!”

Vyf stelle tweelinge het vanjaar as graad 1-leerders by Constantiapark ingeskryf.

Constantiapark het 177 haasbekkies vir die 2024-skooljaar ingewag.

Die graadhoof van Laerskool Menlopark se graad 1-leeders, Cindy Muller sê amper geen trane is gestort nie.

“Die eerste skooldag by Laerskool Menlopark was ’n betowering van opwinding en nuwe beginners.

“Elke Gr. 1-juffrou is opgewonde om ’n jaar van nuwe dinge leer, lekker speel en hope Bokkie-oomblikke saam met elke maatjie te beleef. Laat die avontuur begin!”

Die leerders het te spoggerig in hulle groen-en-geel drag gelyk en was ywerig om hulle skoolloopbaan te begin en nuwe maats te maak.

Altesaam 106 leerders is nou deel van die Parkies-gemeenskap.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button