Opknapping van miljoene rande by Pretoria-dieretuin aangebring

Miljoene is verlede jaar in 'n opknappingsprogram by die Pretoria-dieretuin aan verbeteringe uitgegee. Die vooruitsig is dat teen Mei 2024 die program grootliks voltooi sal wees.

Die Pretoria-dieretuin is nie gesluit nie en gaan ook nie eersdaags toemaak nie.

So sê die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), Shonisani Munzhedzi.

Sanbi is die toesigorganisasie waaronder die dieretuin val en het in 2018 die bestuur daarvan by die Nasionale Navorsingstigting oorgeneem.

Veranderinge ten koste van meer as R105-miljoen is reeds verlede jaar aangebring om infrastruktuur te verbeter.

’n Verdere R80-miljoen word vanjaar aan verbeteringe spandeer.

Veearts Dewald Keet by die oudste inwoner in die Pretoria, die 50-jarige Gunther. Keet is deel van die veeartsenykundespan wat omsien na die welsyn van die diere. Foto: Elize Parker
Lees: Dieretuin se oudste dier word 50

 

Die dieretuin is vanjaar 123 jaar oud en ’n tuiste vir meer as 4 800 diere.

Munzhedzi erken egter ruiterlik daar is veel om te doen om die ervaring van besoekers te verbeter.

“Ek is en bly egter trots op die dieretuin en veral ook op die planne om met opknappingsprogramme die dieretuin na nuwe hoogtes te neem,” sê Munzhedzi.

Hy het reageer op onlangse omstrede klagtes van die publiek oor veral die vervalle infrastruktuur van die dieretuin.

Sommige besoekers meen die toeriste-aantreklikheid bied nie waarde vir geld nie.

Munzhedsi sê meeste van die opknappingswerk sal teen Mei 2024 voltooi wees.

Maatreëls is intussen in plek om vir die verbeteringsprogram se nadelige uitwerking op besoekers se ervaring te vergoed.

Besoekers kry tans afslag op toegangsfooie.

Daar is ook ’n selfoonskanderingskode by die hek beskikbaar. Hiermee kry besoekers toegang tot inligting oor watter dele van die dieretuin verbeteringe ondergaan.

By kampe en hokke waar diere afwesig is of behandeling ondergaan, is kennisgewings geplaas.

Hy het goeie nuus vir diegene wat bekommerd is oor die welstand van die diere.

Die opgeknapte haaitenk gaan moontlik nog vandeesmaand oopgestel word en die opknapping van die pikkewyn- en robbepoel, Stormy Bay, vorder goed.

Die eensaamste olifant in aanhouding in Afrika, Charlie, gaan eersdaags ’n nuwe heenkome kry,

Die 43-jarige olifant, Charlie, sogenaamd “die eensaamste olifant in aanhouding in Afrika”, gaan eersdaags na ‘n toevlugsoord geskuif word. Foto: Elize Parker
Talle looppaadjies asook die rypaadjies by die Pretoria-dieretuin het reeds opknappingswerk ondergaan om dit veiliger vir besoekers te maak. Foto: Elize Parker

Die 43-jarige Charlie woon al 23 jaar in die dieretuin. Hy het ’n maat gehad, maar is sedert 2012 alleen.

Ondersoeke deur die Department van Bosbou, Visserye en die Omgewing het getoon dit sal beter wees vir Charlie (as gevoelswese) om op sy oudag tussen ander olifante in ’n toevlugsoord vir olifante te wees.

Munzhedzi het bevestig besoeke aan ’n moontlike toekomstige diereskuilingsheenkome vir Charlie is reeds deur kenners afgehandel.

Net die deursigtigheidsoudits van moontlike toevlugsoorde moet nog gedoen word om die gewilde dier in hierdie nuwe permanente tuiste te vestig.

Vir diegene met klagtes oor die interimverbeterings aan die infrastruktuur, het hy uitgewys dat die verbeteringsprogram van hierdie klagtes sal takel.

Meer as 70 000 jongmense in skoolgroepe was deel van die meer as 210 00 besoekers aan die dieretuin in 2022.

Volgens hom sal besoekers teen Mei in die opgeknapte Flamingo-restaurant maaltye kan geniet. Kiosks met kosstalletjies is reeds opgeknap.

Ses van die toileteenhede is reeds in die opknappingsprogram reggeruk en vyf van die ouer eenhede is steeds funksioneel en sal eersdaags aandag kry.

Daar is reeds veel gedoen om looppaadjies veiliger te maak en na plaveisel op die rypaaie van gholfkarretjies om te sien.

Janine Baxter is een van die navorsers by die Pretoria-dieretuin se Biobank wat help om wildlewemisdaad te voorkom deur te bou aan ‘n databank van spesies. Foto: Elize Parker.
Daar is vooruitsigte dat die kabelkar by die Pretoria-dieretuin weer in werking gestel kan word. Foto: Elize Parker

Konstruksiewerk aan die parkeerterrein is afgehandel.

Nog ’n klagte van besoekers op sosiale media is dat diere rondgeskuif word in die dieretuin.

Ook die leë kampe en hokke pla besoekers.

Munzhedzi sê diere word geskuif wanneer meganiese en ander fisiese opgraderings van hul kampe en hokke gedoen word.

Hierdie diere moet dan tydelik ander blyplekke in die dieretuin kry, maar word gewoonlik na hul oorspronklike hokke en kampe teruggeskuif.

Die reptielsentrum het reeds met die samewerking van die Vriende van die Museum aansienlike verbeteringe ondergaan.

Munzhedzi het hierdie groep vrywilligers bedank vir hul onbaatsugtige diens en hul terugvoer om die dieretuin deurlopend te verbeter.

Hy het gewys op talle wetenskapsprestasies wat die dieretuin in die onlangse verlede behaal het.

Wetenskaplikes van die reptielsentrum het ’n toekenning van die Pan-African Association of Zoos and Aquaria Conservation ontvang vir hul navorsingswerk oor die teel van bedreigde pannekoekskilpaaie.

Die navorsingseenheid in die dieretuin beoog ook om ’n databasis van wilde diere se DNS by hul Biobank te vestig.

Die DNS-basis kan gebruik word met wildlewemisdaad wanneer gekonfiskeerde diere volgens oorsprong en soort geklassifiseer moet word.

Die werk maak reeds ’n belangrike bydrae in deurbrake met wildmisdaadhofsake.

Zeus, een van die bedreigde diere by die Pretoria-dieretuin. Foto: Elize Parker
Die uitvoerende direkteur van die Pretoria-dieretuin, Leslie Mndimeli, by die watervalle in die Apiesrivier. Foto: Elize Parker.

Nog struktuurverbeteringe is in die pyplynvir die toekoms.

Daar is reeds by die Nasionale Tesourie ’n aansoek geregistreer vir die daarstelling van ’n private ooreenkoms tussen die dieretuin en ’n private verskaffer om die kabelkar weer in te stel.

Hieroor is die uitvoerende direkteur van die dieretuin, Leslie Mndimeli, opgewonde.

“Besoeke is reeds aan buitelandse instellings gemaak om die herinstelling verder te ondersoek en tans stel konsultante ’n pakket saam. Hierdie pakket sal die memorandum van ooreenkoms tussen die verskaffer en die dieretuin uiteensit en aan Tesourie voorgelê word,” verduidelik hy.

Vir hom is die toegewyde dieretuinpersoneel ’n riem onder die hart.

“Die personeel is grootliks voltallig met veeartse en wetenskaplike poste, alhoewel daar ’n vakante pos is vir die nuwe tegniese direkteur,” sê Mndimeli.

Hy het met ’n besoek aan die brug oor die besoedelde Apiesrivier wat deur die dieretuin vloei, gesê skoonmaakspanne is gereeld aan diens om die besoedeling te beperk.

“Die Apiesrivier se toevloei vanaf strome in Pretoria kan ons egter nie beheer nie. Hiermee is ons die slagoffer van waar die dieretuin in die stad geleë is. Reën help egter darem om die rivier skoner te hou,” verduidelik Mndimeli.

– Kliek hier om na dr. Mike Adams te luister oor veranderinge by die Pretoria-dieretuin se reptielsentrum.

@rekordpretoria

Dr. Mike Adams from the Pretoria Zoo speaking on the Reptile Centre’s refurbishment. Link in Bio. RekordNews Pretoria @

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version