Local newsNews

Petrolswendelaar se dae dalk getel na motoriste ‘n speletjie van haar verskynings maak

'n Vrou wat langs verskeie paaie in Pretoria staan en petrol bedel het sosiale media op hol met 'n speletjie waartydens pryse selfs gewen kan word deur diegene wat haar eerste sien en foto's op sosiale media plaas.

‘n Berugte petrolswendelaar vol slenters wat regoor Pretoria op straat gesien word vir ‘n geruime tyd al, se beweerde streke het nou tot ‘n gemeenskapspeletjie gelei.

Wie die bedelende brunet met die kannetjie en die blou kar eerste sien en dit eerste aanmeld met ‘n foto op ‘n sosiale media groep, kan selfs pryse soos ‘n karwas, ‘n paneelbordkamera of twee dosyn koeksisters wen.

So berug het die sogenaamde Annetjie-met-die-kannetjie geword, dat sy tot haar eie meme gekry het.

Daar is al ook internasionaal kennis van Annetjie-met-die-kannetjie streke geneem.

Administateurs van sosiale media-groepe voel hulle genoop om lede teen ‘n spesifieke petrolswendelaar in hul buurt te waarsku.

Sosiale media-groepe soos Eks van die Ooste met sy 52 000 lede sowel as groepe selfs in Centurion, waarsku hul lede om nie te stop en vir haar hartseer storie rondom haar gebrek aan petrol en geld te val nie.

So het sy al glo menige barmhartige Samaritaan van petrolgeld vir haar nood verlig.

Ander goedhartiges het selfs al klaarblyklik die moeite gedoen om petrol te gaan koop.

Die brunet word dikwels vir twee ure op plekke ook soos naby die Pretoria Botaniese Tuin in Cussonialaan gesien waar sy verwese die leë kannetjie ophou.

Sommige motoriste het haar al naby die Waterkloof-lugmagbasis of die Delmaspad gewaar waar sy gewoonlik staan waar daar ‘n padreserwe is.

Daar is ook diegene wat haar blykbaar al met ‘n hond en selfs ‘n kind langs die pad en die blou kar gewaar het.

Groeplede op sosiale media wonder oor aspekte van Annetjie-met-die-Kannetjie se lewe soos “wat doen sy met al die petrol?”

Sedert haar berugtheid haar ingehaal het, is Annetjie-met-die-Kannetjie glo ook geneig om minder sosiaal aanvaarbare handtekens te wys vir diegene wat hul selfone uithaal om haar af te neem.

Min is oor haar bekend behalwe dat sy moontlik in Arcadia woon.

Motoriste is al ingestel om andere te waarsku op sosiale media teen die berugte Pretoria-petrolswendelaar.

Een van die lede van ‘n sosiale media groep beweer dat sy al 15 jaar die publiek op hierdie manier ‘n rat voor die oë probeer draai.

Klaarblyklik het sy met haar slenters in Pretoria-Noord begin en toe haar bedelgebied begin uitbrei.

Diegene wat andere raad rondom haar bedelgewoontes wil gee, stel voor dat petrol wat aangebied word met water verdun word.

Sy het selfs ‘n bewonderaar of twee wat voel sy is vernuftig siende dat die petrolprys so vinnig styg en dalk haar wins kan verdubbel.

‘n Stokkie mag dalk egter eersdaags in Annetjie-met-die-kannetjie se wiel gesteek word.

Metropolisie is onlangs op een van haar bekendste bedelplekke, in Cussonialaan, gewaar en dit blyk dat hul stelling met ‘n metropolisiekar ingeneem het om haar moontlik te betrap.

Annetjie-met-die-kannetjie se gebruiklike tyd vir die spesifieke ligging is na 14:00 op Donderdae berig diegene wat haar dikwels daar gewaar.

* Navrae is aan Stad Tshwane gerig om te hoor of hul enige stappe teen Annetjie-met-die-kannetjie beoog en haar moontlik in die oog vir oortredings het.

Die Pretoria-publiek het al spottenderwys ‘n meme ontwikkel rondom Annetjie-met-die-kannetjie (net ‘n bynaam) om te wys wat mens dalk in ‘n beginpakkie nodig het om ‘n petrolswendelaar te word.

LEES OOK: Moot-gemeenskap kan terugkyk op ‘n jaar van selfdoensukses

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button