Video beteken moontlike nuwe tradisie by Afrikaanse Hoër Meisiekool

'n Video van 'n groep ouers wat vertrekkende matriekleerders toesing, is ver en wyd gekyk en het talle kommentare uitgelok.

’n Video van ouers, grootouers en tannies sowel as onderwysers wat matriekleerlinge toesing na hulle finale matriekeksamenvraestel, het viraal gegaan op sosiale media.

Die video is al meer as 200 000 keer gesien, vertel Afrikaanse Hoër Meisiekool se bemarkingsbeampte, Colleen Naudé.

Die geleentheid was die idee van die kuns- en dramaonderwyser by die skool, Steffie le Roux.

Michelle Pieterse, ma van die hoofdogter, Erin, vertel dat die uitvoering van die idee oorgelaat is aan die bekwame en gerespekteerde graadhoof van die matrieks, Marthie Davel.

“Dis die eerste keer wat ons so iets gaan aanpak, maar ek weet en glo dat dit soveel harte gaan omhels en vashou,” het Davel vooraf aan ouers gesê.

Van die ma’s wat die matriekleerders toegesing het na die skryf van hul laaste matriekvraestel.

Die groep self kon net een keer saamoefen vir die video.

’n WhatsApp is op 22 November aan die groep matriekouers gestuur.

Hierin is video’s van die liedjies wat vanaf die balkon as ’n verrassing aan die vertrekkende leerders gesing sou word, vir oefening aangegee.

“Ek stuur môre die struktuur van die liedjie en die lirieke. Dan sal ek die naweek ’n stemnota stuur waar ek dit sing sodat julle dit presies so kan aanleer,’ het Davel aan matriekouers in hul WhatsApp-groepie laat weet.

Die oggend voor die saamsinggeleentheid op 1 Desember het hulle onder ’n boom op die terrein bymekaar gekom.

Die liedjies vir die saamsing is gekies deur Le Roux vir die spesifieke simboliese en emosionele betekenis daarvan.

Die keuse het geval op Abba se liedjie “Slipping through my fingers”, gekombineer met Riana Nel en Retief Burger se seënbedetreffer “Die Seën”.

“Die woorde en kombinasie was fenomenaal,” meen Pieterse. “Menige traantjie is deur ouers en die leerders gepink!”

Die leerders en hul ouers wat op 1 Desember toegesing is na hul laaste matriekeindeksamenvraestel.

Die leerders se reaksie was dat hulle gewoond is om die singwerk vir hul ouers te doen.

“Nou is hulle vir ’n slag toegesing,” sê Pieterse.

Davel het die reaksie wel verwag, verduidelik sy.

“Sy het in haar WhatsApp aan ons ouergroepie gemeld: ‘Ooo, hulle gaan nie glo dat julle vir hulle gaan sing nie’,” sê Pieterse.

Sy vertel dit is nie die eerste keer vanjaar wat die groep leerders deur ouers verras is nie.

Dit is ’n tradisie by die skool dat ’n leerdergroep wat die skool verlaat ’n ring van Jenna Clifford kry.

Vanjaar is die meisies egter meegedeel dit kan dit as gevolg van finansiële omstandighede nie geskied nie.

Die ouers het egter met ’n fondsinsameling dit wel moontlik gemaak en het die meisies met die ringe by die uitnodiging na die matriekafskeid daarmee verras.

“Dit is ’n ongelooflike spesiale groep leerders. Hulle graadnaam was nie verniet ‘Vonkies’ nie,” vertel Pieterse.

As ’n geskenk aan die skool het die meisies en ma’s tydens ’n Ma-en-Dogteroggend klippies geverf om in te werk by ’n muurskildery deur een van die leerders by die swembad.

“Dit was so ’n voorreg om hiervan deel te kon wees en ek glo ’n nuwe tradisie is nou gevestig,” sê Pieterse.

Skoolhoof, Marna Jordaan het elke ouer, broer, suster, ouma en oupa wat kom sing het, bedank.

“Daar is geen geld wat ooit oomblikke soos hierdie sal kan koop nie. Hierdie spontane gebaar van die 2023-matriekouers sal my ewig bybly. Ek besef net opnuut hoe oneindig bevoorreg ek is om op hierdie stadium van my lewe te wees waar ek is. Die klas van 2023 het soveel liefde uitgestraal en ons almal opnuut daaraan herinner dat ons ’n familie is,” sê Jordaan.

Kliek hier om die toesinggeleentheid video te sien:

Michelle (links) en Erin Pieterse.

LEES OOK: Hoërskool Garsfontein stel nuwe seuns-hokkie direkteur aan

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version