Oud-Pretorianer, geliefde plakkieskind wen talentkompetisie

'n Skaam student het die hart van menige Suid-Afrikaner en die beoordelaars gesteel met sy Theuns Jordaan-stem en kuif-oor-die-voorkop voorkoms en plakkies.

Met sy plakkies en sy sielvolle stem het Chris Steyn week-ná-week talle harte verower op die derde seisoen van Die Kontrak.

Vir veral Karlien van Jaarsveld, beoordelaar was Steyn se doodgewone en ongekunstelde aanbiedings in sy plakkies, een van die dinge waarvan sy gehou het.
“Ek hou daarvan dat jy sommer in jou plakkies gekom het!” het sy tydens ‘n program aan hom uitgeroep.

Die oud-Pretorianer het geen formele agtergrond in Musiek nie, maar is Vrydagaand, 24 November 2023 as die nuutste kontrak-wenner by die tiende viering van die Afrikaans is Groot-konsertreeks aangekondig.

En nou beplan Steyn volgens sy woordvoerder, Johan C. Venter, om terug te keer vanaf Stellenbosch na Pretoria.

Die skaam introvert het met ‘n skugter glimlag op die verhoog gekom en die gehoor bedank vir sy oorwinning. Hy was duidelik die gehoor se gunsteling.

“Wie sou dit nou kon glo?” het Steyn skaam gesê.

Hy het daarna met sy ghitaar en plakkies aan die voete tot groot vermaak op ‘n bakkie op die verhoog geklim en begin sing soos ‘n ware countrysanger.

Sy pad met musiek het toevallig gekruis. Aanvanklik wou dié student van Stellenbosch ’n rugbyspeler of besigheidsman wees, maar dis om ’n kampvuur, met ’n bokskitaar in die hand waar dinge vir hierdie 19-jarige handomkeer verander het.

Chris Steyn. Foto verskaf

Sy vriend en woonstelmaat het talent raak gesien en het hom ooreed om in te skryf vir Die Kontrak.

“Ek wou oorspronklik nooit inskryf vir Die Kontrak. My woonstelmaat het my een aand oortuig om die video te neem. Ek het toe gesê ek sal slaap daaroor en toe ek wakker word het hy reeds die video gelaai. Maar natuurlik is ek nou baie dankbaar daarvoor,” het Chris gesê.

Chris is tydens die seisoen deur nóg ’n kontrakwenner, Demi Lee Moore, gementor. “Demi is ’n wonderlike mentor en ek dink ek kon nie vir beter gevra het nie. Demi het my altyd gehelp met die tipe liedjies wat ek moet sing of hoe om die melodie ’n bietjie te verander, maar sy het nooit die manier van sing of my menswees probeer verander nie.”

Demi Lee is in die wolke dat haar deelnemer met die louere weggestap het. “Ek kan nie meer trots op Chris wees nie, ek kan nie wag om te sien hoe sy loopbaan blom nie.” het Demi Lee gesê.

Chris se album, wat sy wen-enkelsnit, Helemal, insluit het binne ’n paar ure sedert uitreiking na die nommer een posisie gespring op verskeie stroomdienste.

LEES OOK: Analis meen koalisiepolitiek nou nodiger as ooit vantevore

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version