Ouers probeer uitweg vind teen boelies in Moot-skole

Ouers van die Moot probeer verskeie oplossings teen boeliegedrag in skole in die area: sommige wend hulle tot sosiale media, ander probeer programme by die kerk en ander haal kinders uit skole en doen tuisonderrig.

 

Boelies in skole dryf sommige ouers nou om hul kinders na tuisonderrig te skuif in die Moot.

“Skole in die Moot het ernstig hulp nodig met die boelies wat sommige skole regeer,” sê ’n ma van ’n leerder.

Sy het reageer op Rekord se artikel oor boeliegedrag in hierdie skole.

“Verlede week het die skool my gebel en gevra waar is my kind? Jy kan dink wat gaan deur ’n werkende ma se gedagtes. Dit blyk toe dat my kind onder onderwyserstoesig sy eksamens alleen in die hoof se kantoor skryf sodat skoolboelies hom moet uitlos. Nou hoe werk dit? Die slagoffer sit in ’n tronk en die boelies loop buite rond. Dit gaan my verstand te bowe,” vertel die moedelose ma.

Sy het intussen haar kind by ’n skool vir tuisonderrig ingeskryf. Hy word net vir die skryf van eksamens by die skool afgelaai en dadelik weer opgelaai.

Sy wil anoniem bly aangesien sy bang is vir verdere viktimisering van haar kind en ander familielede by die skool.

Die boeliegedragprobleem in die Moot het ook klaarblyklik ’n nuwe dimensie gekry.

Dit blyk dat leerders van een skool selfs ’n ander skool se leerders boelie.

’n Desperate ma van ’n leerder in ’n skool in die Moot vertel hoe haar dogter vroeër vanjaar deur WhatsApps geboelie is.

“Toe ons die skool met die boelies nader, het hulle geweier om in te tree en standpunt in te neem. Die rede? My dogter is in ’n ander skool. Ek kry die idee boelies wen altyd,” vertel die ma.

’n Bewys van die boeliegedrag is die gewildheid van tuisonderrig in die Moot.

’n Groot persentasie van die 80 kinders in ’n private leersentrum in die Moot is in hierdie skool opgeneem omdat hulle by skole in die omgewing geboelie is.

So sê Ilana Venter, hoof van Moot Maats Leersentrum en Naskool.

Sy verduidelik die skool was aanvanklik klein en het tydens Covid-19 met tuisonderrig begin.

Op versoek van ouers is die skool uitgebrei na ’n leersentrum om ’n tuiste te wees vir leerders van graad R tot 12.

Venter vertel talle van die kinders pas vir verskeie redes nie by die hoofstroomskole in nie en word daaroor geboelie.

“Van die kinders wat oorgewig is of dalk klein gebou is, is soms rerig verniel deur ander kinders by hulle vorige skole. Ons het kleiner klassies en kan makliker die boeliegedrag raaksien en gouer bekamp,” sê Venter.

Haar strategie teen boelies is om leerders te bemagtig.

“Kinders snou mekaar maklik toe ‘jou ma is vet’, ‘jou tone is lelik’ of ‘jy is ’n ou shorty’. Ek leer die slagoffers om anders te dink oor ’n opmerking oor iets wat jy nie kan verander nie. Of om die boelie toe te voeg: ‘Ag, watookal’. Of om dalk ’n positiewe grappie teenoor die boelie te maak,” verduidelik Venter.

Een van die ma’s wat maar al te dankbaar is haar kind verlaat vanjaar haar skool vol beweerde boeliegedrag, het ’n statusinskrywing oor haar kind se gesigbeserings op sosiale media geplaas.

Sy sê sy het egter nie tyd of geld vir moontlike hofsake nie en het die foto en teks later verwyder.

“Vandat ek daai status geplaas het, los die boelies darem nou my kind uit. Daar is gelukkig nog net ’n paar skooldae oor. Dan kan my kind na ’n beter skool gaan. Ek dank die Vader daarvoor,” verduidelik sy.

’n Kerk in die Moot voel só ernstig oor die boeliegedragprobleem, hulle het ’n teenboelieprogram ingestel om die gemeenskap te help oplossings vind.

Reanca Olwage is Doxa Deo Kerk in die Moot se koördineerder vir die program.

“Ek het agtergekom boelies is emosioneel baie seer of onder druk. Huishoudings speel die grootste rol hoekom kinders boelie. Met besige leefstyle van ouers is familietyd nie meer ’n prioriteit nie,” sê Olwage.

“Ons fokus is nie net om met die boelie te werk nie, maar ook die ouers,” benadruk sy.

Die kerk se teenboelieprojek fokus tans op die kinders se identiteit. Daar is vir ouers ’n ouerskapsprogram van vier weke.

“Ons wil graag ons projek in skole ontplooi om ’n gesonde gemeenskap te skep en kinders en ouers te bemagtig,” sê Olwage.

Wetgewing gaan kinders ook moontlik binnekort kan bemagtig.

Leerders wat geboelie word kan binnekort self aansoek doen om ’n beskermingsbevel teen ’n ander leerder sonder die betrokkenheid van ouers of voogde.

Die wetgewing is deel van die omstrede Bela-skolewet en moet nog deur wetgewende prosesse gaan sowel as deur President Cyril Ramaphosa onderteken word.

Met inwerkingstelling daarvan kan skoolboelies onder sekere omstandighede tronk toe gestuur word.

Hulle kan ook wettiglik deur maatskaplike diensprogramme gesit word vir bekamping van afknouery.

Tans is daar reeds verskeie wette wat daarop gemik is om kinders teen boeliegedrag te beskerm.

AfriForum se teenboeliespan onder leiding van Leandie Bräsler, glo met hulle teenboelieveldtog word leerders wel bemagtig.

“Ouers en onderwysers word ook aangemoedig om proaktief op te tree sodat boeliegedrag gestop kan word voordat dit nodig is om ’n saak by die polisie te maak,” sê Bräsler.

AfriForum-woordvoerder oor regsake, Alana Bailey, sê enige een het volgens strafreg reeds die vryheid om volgens bestaande wetgewing ’n saak teen ’n boelie by die polisie aanhangig te maak.

’n Ma van Eersterust het op 11 November juis só ‘n klagte gaan lê teen ’n groep kinders wat haar laerskooldogter al ’n geruime tyd boelie.

Verlede week het die groep haar na bewering vasgekeer, geskop en op haar kop getrap. Sy het in die hospitaal met ernstige wang- en kopbeserings beland.

“Die polisie by Eersterust se polisiestasie was baie behulpsaam en het my ingelig oor die moontlikheid om ’n beskermingsbevel teen die boelies te kry. Ek oorweeg dit ernstig.

“Ek is teleurgestel in die skoolhoof. Mens dink jou kind is veilig as jy by die werk is. My kind is potblou geslaan en moes skanderings kry vir skade aan haar kop. Die skool is duidelik nie ’n veilige omgewing vir haar nie.”

Doxa Deo Kerk in die Moot versoek skole wat bereid is om hul skoollokaal beskikbaar te stel vir die ouerskapskursus, om hul bediening vir kinders per e-pos te kontak by reanca.olwage@doxadeo.org .

Rekord het al meer as ’n week gelede die Gauteng Department van Onderwys om kommentaar oor die kwessie gevra, en telkens weer genader, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version