Selfdoenprojekte-sukses skep nuwe hoop vir Moot-inwoners

Danksy vrywilligers en selfdoenprojekte het die Moot vanjaar op talle plekke 'n nuwe baadjie omgeslaan.

“Die buurtspan van AfriForum se Groter Moot-tak het gedurende Oktober reusewerk gedoen om die Moot skoon te maak en op te knap. Die buurtwag het ook heelwat patrollies gery om misdaad die hoof te bied.”

So sê die leier van die span, Andries Opperman.

Hy glo hierdie been van die projek is ’n goeie spieëlbeeld van die res van die jaar se werksaamhede.

“Met hierdie Oktoberprojek het ons 142 geelsakke rommel weggery, asblikke leeggemaak en nege bakkie- en sleepwavragte tuinvullis weggery.

“Ons het ook drie vragte grond uit die stormwaterkanale verwyder. Altesaam 11 ure is bestee om verskeie areas netjies te maak met kettingsae.

“Die buurtspan het verder drie verkeersligte geverf en sewe stormwaterdreine skoongemaak,” vertel hy.

Opperman is verder trots op die 29 buurtwagpatrolleerders wat 60 patrollies gery het om die gemeenskap veilig te hou. Die Groter Moot-buurtwag het 78.2 ure aan patrollies afgestaan in Oktober.

“Ons sal aanhou om ons gemeenskappe te help waar munisipaliteite misluk om hul pligte na te kom. Ons sal voortgaan om hoop in gemeenskappe te skep deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil maak,” sê Opperman.

Hy sonder hoogtepunte van vanjaar uit, soos die groei van die buurtwag en die uitbreiding van die buurtwag se kameranetwerk sowel as die bakkie wat bekom kon word vir die buurtspan.

“Ons het ’n groot tree vorentoe gegee om vir twee van ons spanlede opleiding te gee in sekuriteitkameras se installering en nog twee van ons lede het vir sweisopleiding gegaan,” verduidelik ’n dankbare Opperman.

Die gemeenskap se betrokkenheid deur die buurtspan te help om seker gedeeltes van die Moot aan te neem vir opknappingswerk en in sommige gevalle ook te beveilig, is vir hom ’n riem onder die hart.

So ook is vordering gemaak met die skoonmaak en snoei van plantegroei in die noorde en suide van die Moot en Hartbeesspruit.

“Ons is ook baie trots op die Codonia-straatkunsprojek. Ons het vanjaar afgeskop en wil nog baie mure in Codonia verf met kultuureie pragwerke,” vertel Opperman.

Hy het weer vanjaar bewus geword hoe inwoners hunker na dienslewering.

“Almal het dieselfde bekommernisse en vrae. Wanneer hulle dan wel dienslewering vanuit die gemeenskap self kry, sonder dat daar enige belastingeld daarvoor ontvang was, ervaar inwoners dit as ’n vars bries.

Vele is dankbaar op ’n tasbare manier. Die Hartjie van die Moot-fees wat South Africa Fire Smoke Meat Association vir die Groter Moot-tak gereël het om dankie te sê, was baie welkom,” sê Opperman.

Hy stel hul mikpunte vir volgende jaar so: “Versnel. Versnel. Versnel. Ons het ’n groot projek wat aan die kom is met herwinning. Die operasionele vermoë van die buurtspan moet ook uitgebou word. Ons sal graag meer besighede en sakemanne hierby wil betrek.”

Volgens Opperman doen die spanne die werk eerstens vir hul kinders.

“Dit gee vir ons ’n anker om te weet dat ons besig is met iets groter as ons self,” glo Opperman.

Hy meen selfdoenprojekte het ’n eiesoortige volhoubare waarde vir ’n gemeenskap.

“Enigiemand wat al ’n bietjie in so ’n selfdoenprojek gewerk het, sal vir jou kan vertel dat dit jou vrymaak van die gevoel van magteloosheid wat die staatsverval by ons almal laat. Maar met selfdoen bedoel ons nie net dat inwoners self in die parkies moet werk nie.

“Ons glo ons is besig om te bou aan ’n alternatiewe gemeenskapgedrewe dorpsraad,” verduidelik Opperman.

Hy wys daarop dat sonder skenkers sou die spanne nie hul werk kan doen nie.

“Byna die helfte van ons toerusting en projekte word gefinansier deur vrywillige donasies van inwoners en besighede wat graag wil bydra om oplossings te vind vir die Moot,” benadruk Opperman.

Die beginsel van “gebreekte vensters” soos die New York burgemeester Rudy Giuliani dit uitgespel het, is vir hom belangrik.

Daarvolgens kan fisiese tekens van verval tot die ondergang van ’n gemeenskap meewerk.

Juis daarom moet wat gebreek is en verval het, reggemaak en onderhou word deur ’n gemeenskap.

“Die beginsel van ‘gebreekte vensters’ is een van die hoofmotiverings vir ons projekte in die spruite. Hoe slordiger die spruite is, hoe meer plakkers trek in en hoe meer stort inwoners onwettig rommel in die spruite.

“Sodra jy begin skoonmaak en opruim en snoei, dan maak dit nie net die omgewing mooi nie, maar dit bevorder ook veiligheid. Ons glo vas die strate behoort wel aan ons, en daarom moet ons weer eienaarskap daarvan neem.”

Vir Kerstyd wag daar dalk vir die mense van die Moot ’n verrassing.

“Hou die spruite dop! Julle mag dalk net ’n man in ’n rooi pak op ’n oranje grassnyer raaksien!”

LEES MEER: Ikoniese Afrikaanse liedjie nou spil van musiekblyspel

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version