Local newsNews

Montana-inwoners voel vervalle poskantoorterrein is nou buite beheer

Ontstoke inwoners beweer twee maande later het daar nog niks van die burgemeester se beloftes na 'n oorsigbesoek gekom om die vervalle Montana-poskantoorterrein se uitdagings aan te spreek nie.

Die inwoners van Babianastraat in Montana in Pretoria-Noord is ontstoke omdat hulle voel niks het gekom van die beloftes rondom die Montana-poskantoorterrein wat die burgemeester Cilliers Brink tydens sy oorsigbesoek aan Doornpoort en Montana in Julie gemaak het nie.

Johan Grové, ’n inwoner van Babianastraat waar die terrein geleë is, is veral verontrus deur die toenemende aantal mense wat hulle onwettig op die terrein tuisgemaak het, sowel as op die terrein van die aangrensende onbemande vulstasie.

Grové het nou uit moedeloosheid sy huis in die mark gesit en beoog om te verhuis.

“Veral die groot vure wat saans daar gemaak word, bekommer ons. Die buurt se misdaadgroep waaraan ons dit rapporteer, het ook gewaarsku dat ons as gewone burgers dit nie mag blus tensy dit handuit ruk nie,’ vertel ’n gekwelde Grové.

Die misdaadgroep beveel telkens aan Grové moet die metropolisie skakel sodat wetstoepassers die onwettige besetting kan beëindig en gepaardgaande veiligheidsprobleme vir die buurt soos beweerde dwelmhandel, kan aanspreek.

“Die metropolisie daag egter nie op wanneer hulle geskakel word nie en dit lei tot verdere frustrasie,” sê hy.

Vure wat bedags maar ook saans deur onwettige besetters gemaak word binne en langs die vulstasieterrein in Babianastraat, skep ‘n brandgevaar vir die hele omliggende buurt, glo ontstoke inwoners.

Grové glo die situasie is totaal buite beheer.

“Daar is daagliks tot tien mense by die poskantoorterrein sowel as by die vulstasie, wat daar sit en suip. Dit gaan net ongelooflik lekker vir hulle. Ons as inwoners en belastingbetalers se hande is afgekap om iets te doen en ons kry nie ondersteuning nie,” benadruk hy.

Hy en die ander inwoners voel allesbehalwe veilig.

“Ek wil nie egter meer hier bly nie. Dis nie meer veilig genoeg nie. Ons eiendomme sal later nie meer verkoop kan word nie. Dit is die realiteit en dis hoe almal hieroor voel,” merk ’n gefrustreerde Grové op.

Konstruksiewerk aan die vulstasie staan op die oomblik stil en die terrein is nie in gebruik nie.

Volgens ’n inwoner wat oorkant die vulstasie woon, Elandro Viljoen, het die eienaar vermeld daar is vertragings by die stadsraad met die goedkeuring van die planne.

Viljoen is ook moedeloos oor die verval in sy onmiddellike omgewing.

“Ek hou my veiligheidskameras dop om te sien of die metropolisie opdaag want dis nie altyd veilig vir my om uit te gaan nie. Maar daar is geen aksie wanneer hulle geskakel word nie,” bevestig Viljoen.

Hy is dankbaar dat die burgemeester wel ’n oorsigbesoek kom doen het, maar hy was daartydens al skepties, aangesien talle beloftes oor die terrein met verloop van tyd gemaak is.

“Ek het nie my asem toe of nou opgehou vir enige reaksie nie. Daar is nou heeltemal beheer verloor oor die situasie. Ek kan nie vir ander beskryf hoe dit nou drasties by die dag vererger nie. Dis onuitstaanbaar,” sê Viljoen.

Beide die Tshwane metro en die Poskantoor is om kommentaar genader, maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.

– Kliek hier om te sien hoe vure binne die vulstasie langs die vervalle Montana-poskantoorterrein gemaak word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button