Centurion-sanger met simfoniese klank se terugkeer verwelkom

'n Centurion-sanger het bykans 20 jaar gewag voor haar volgende album verskyn het, maar die liedjies se klassieke en Keltiese verwerkings vind byval by kleiner gehore in intieme teaters.

Jy gaan nie sommer vir René Compton, die sanger van Centurion met ’n klassieke aanslag, maklik op ’n tipiese feesverhoog kry nie.

Sy sing en skryf musiek vir fynproewers wat dieper betekenisse aan liedjies soek.

Haar aanhangers is ook lief vir musiek wat soms Keltiese klanke in die verwerkings gebruik.

Die musikant se genuanseerde sang, sensitiewe lirieke en melodieë kom meer tot sy reg in ’n klein intieme teater soos die Pierneef-teater.

Dit is dan ook juis in hierdie teater waar die oud-Bloemfonteiner en voormalige verpleegkundige se nuwe Afrikaanse album Vrede in die Chaos bekendgestel is.

Compton het bykans 20 jaar gewag om weer haar stem en haar liedjies soos “Afrika-vrou” en “Torring Los” te laat hoor.

“As musiek in jou bloed is, kom jy altyd weer terug daarnatoe, al is dit onbepland. Ek was skielik net weer lus om liedjies te skryf,” sê die oud-Kovsie.

René Compton. FOTO: Elize Parker

Die album het 14 snitte, waarvan byna almal uit haar pen kom.

Tussen die verskyning van haar laaste album, Die Verkeerde Kant Van Reg, en die nuwe een, het Compton wel af en toe voor die vleuelklavier in haar sitkamer en kitaar ingeskuif om liedjies te skryf.

Sy het mettertyd gehoor gegee aan die versoeke van vriende om weer ’n album op te neem en op te tree.

Haar melodieë het ’n sterk simfoniese aanslag, iets wat sy self “groot musiek” noem.

“Ek is ’n emosionele liedjieskrywer. Ek kan nie sommer net oor dit of dat skryf nie. Iets moet my aanraak,” sê Compton.

Sy het onder die naam, Crimson Chrysalis, haar hand aan musiek met ’n Skandinawiese rock-aanslag gewaag in die jare tussen die twee albums.

Haar terugkeer na haar wortels – soos toe sy gereeld saam met kunstenaars van die luisterliedjiebeweging opgetree het – is tydig vir Compton.

“Afrikaans is die taal van my hart. Dis die taal waarmee ek oor temas in en om my lewe kan skryf.”

Sy is steeds betrokke in gesondheidsorg, alhoewel nou meer in ’n administratiewe bestuurshoedanigheid.

Juis hierdie voltydse toewyding aan haar beroep het Compton van die opname-ateljee weggehou.

“Soms moet mens konsentreer op wat die rekeninge betaal,” lag sy tong-in-die-kies.

Sy voel sterk dat die Covid-19-pandemie mense nuut oor saamwees laat dink het en nuwe idees gegee het oor wat belangrik is.

“Al die stories van die liedjies op die album is nie my stories nie, maar hulle raak my wel aan. Ek hou daarvan om oor verhoudings en mense te skryf,” verduidelik sy.

Veral temas soos vriendskap spreek haar aan. Sy het ’n liedjie op die album geskryf vir ’n vriendin wat afgesterf het, maar ook ’n ander liedjie om ’n 30-jaar-oue vriendskap te vier.

René Compton. FOTO: Elize Parker

Liedjieskryf is ’n proses vir Compton.

“Ek het dikwels ’n konsep in my kop, maar wag vir die een sterk versreël om te vorm. Daarna gebeur dit vinnig agter die klavier of kitaar. Soms vind ’n liedjie jou en nie jý die liedjie nie.”

Sy het in 1986 aan die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein gematrikuleer. In haar eerste jaar as verpleegkunde-student aan die Universiteit van die Vrystaat het sy die kampus se talentkompetisie met een van haar eie komposisies gewen.

In 1996 word haar eerste album Kampus lady vrygestel. Daarop was die treffer “Marionettespel” wat gereeld op radiostasies landswyd gespeel is.

Sy glo aan hulp inroep met die verwerking van liedjies en maak staat op verwerkers soos Eben Schutte en Riaan Steyn.

“Ek is ’n komponis, maar nie ’n sterk verwerker nie. Ek glo hul verwerkings laat my liedjies meer tot hul reg kom.”

Haar droom is om nog eendag haar musiek na Nederlandse en Belgiese gehore te neem.

“Ek is mal oor die krag van hul musiek. Wie weet, dalk gebeur dit nog. Tyd sal leer.”

– Kliek hier om haar musiek te luister: https://orcd.co/vrede-in-die-chaos

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version