EntertainmentLocal newsNews

Moot-liedjieskrywer help verlange besweer met terugkomliedjie

Suid-Afrikaanse landbouwerkers in die VSA wou hulle verlange na hul geliefdes en hul land verwoord in 'n liedjie en nader toe die liedjieskrywer van die Moot om die verlange gestalte te gee.

ieterse Toe ’n sanger van die Moot, Logan Pietersen, op moedverloor se vlakte gesit het, kon hy nie voorsien ’n versoek uit Amerika om ’n liedjie te skryf sou sy loopbaan weer momentum gee nie.

Nou is sy nuwe enkelsnit, “Bring my terug (H2-A)”, internasionaal gewild na die vrystelling op 22 September.

Die video daarvan word wêreldwyd gekyk deur Suid-Afrikaners wat in ander lande werk, veral in die landboubedryf in die VSA.

Pietersen het vroeg verlede jaar van Naboomspruit, Gauteng toe gekom om sy lewensdroom uit te leef om ’n sanger te wees en met musiek sy brood en botter op die tafel te kry.

Die gesin het plase in die distrik gehad, maar na skool het Pietersen sy eie vermaakplek met lewendige musiek vier jaar lank bestuur.

Die stad se liggies het gewink nadat twee tragedies sy lewe se koers onherroeplik verander het.

Sy 25-jarige suster, Michelle Pietersen, is in November 2018 aan bloedvergiftiging oorlede nadat Pietersen se moeder met haar na Eugene Marais-hospitaal in Pretoria gejaag het.

Die skielike siekte en afsterwe binne enkele dae van sy geliefde sussie was ’n groot trauma vir die gesin.

Sy ma, Lenchen, is kort daarna met borskanker in Augustus 2020 gediagnoseer.

Pietersen moes hierdie kankerstryd van sy ma deur Covid-19 se grendeltyd saam met sy gesin deurmaak.

Hy herinner hom aan die stryd voor die hospitaal in sy motor om dae lank vir ’n kort besoek te wag.

“Ek het so parkeer dat ek darem net haar kamer se venster kon sien,” vertel hy aangedaan.

Nadat sy gesterf het, was hy vir ’n ruk verlore en het nie geweet hoe om weer sy lewe en sy musiekloopbaan aan die gang te kry nie.

“My ma was my steunpilaar en ek moes leer om sonder haar en my suster klaar te kom. Maar ek het aan my geloof vasgehou en moed geskep,” sê die vasberade sanger.

LOGAN PIETERSEN HOU VAS AAN SY DROOM

Pietersen hou jare al vas aan die droom om eendag ’n regstreekse optrede op ’n verhoog in die mekka van country-sangers, Nashville, in die VSA te doen.

Hy het as gevolg van sy familiekrisisse die geleentheid moes verbeur om in die semi-finale van die TV-talentkompetisie, The Voice, deel te neem.

Pietersen het vroeg in 2022 Pretoria toe verhuis om te kyk of die stad dalk meer geleenthede bied. Hy kon gedurende die pandemie in Johannesburg geld met ’n klerkposisie verdien.

Die liedjieskrywer het egter bly hunker om weer liedjies te skryf en met sy kitaar in die pad te val. Pietersen het na die pandemie weer regstreekse optredes in vermaakplekke in plekke soos Boksburg, Hartbeespoort, Vanderbijlpark en vele ander gedoen.

Twee enkelsnitte het onderskeidelik in September 2021 en September 2022 verskyn, by name “3-weke” en “Eks-probleem”.

“Dit lyk my September is my gelukkige maand!” sê hy met ’n skugter en opregte glimlag.

’n Vriend het hom genader met ’n versoek van Suid-Afrikaners in die landboubedryf in die VSA. Die groep wat regoor Noord-Amerika in bedrywe soos die mielie- en veebedryf verbonde was, wou ’n liedjie oor hul omstandighede geskryf hê.

Pietersen sê hy kon hul harte en die verlange in die versoek daarin lees. In Limpopo het sy gesin ook ’n wild- en mangoplaas.

Hy verstaan die lewe en harte van boere en landbouwerkers.

Hy was veral aangegryp deur die hunkering in hul harte om terug te keer na hul geliefdes.

“Ek wou harte vir hulle aanraak. Ek wou hê mense moet verstaan wat hierdie mense deurgaan net om vir hulle gesinne te kan sorg. Daar is geweldig baie opofferings. Soms werk hulle 18 ure ’n dag of langer.”

Hy het die visanommer vir landbouwerkers in die VSA H2-A by die liedjienaam gevoeg.

“Dis hul identiteit daar, ’n visanommer. Dit maak my hartseer.”

Pietersen kon binne ’n kort tyd die liedjie, “Bring my terug (H2-A)”, skryf.

Die spontane opname daarvan is gou per WhatsApp en sosiale media versprei deur sy opdraggewers en Amerikaanse aanhangers.

Die landbouwerkers het ook fondse aan hom beskikbaar gestel om ’n opname te maak en so is sy enkelsnit gebore. ’n Musiekvideo is in die pyplyn en hy is ’n opnamekontrak deur ’n platemaatskappy aangebied.

“Ek het soveel hulp van mense in die bedryf, soos my neef Jacques du Plessis, gekry. Ek glo in myself en in my talente, maar mens het ’n hupstootjie in hierdie bedryf nodig. ’n Mens moet mekaar maar help waar jy kan.”

Sy droom is vir die liedjie om hoop te versprei, onder die landbouwerkers in die VSA maar ook onder Suid-Afrikaners om weer moed en hoop te skep.

“Ons moet hierdie land weer mooi maak dat ons mense huis toe kan kom.”

– Klik hier om Logan Pietersen se mees onlangse enkelsnit te hoor: “Bring my terug (H2-A)”

LEES OOK: Bomeskenking maak dat radiostasie liefdadigheid se wortels verdiep

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button