EntertainmentLocal newsNews

Vier kunstenaars kry elk twee Aitsa-musiektoekennings vanjaar

Pretoria FM het vanjaar hul luisterryke 30e verjaarsdag gevier met die Aitsa-musiektoekennnings se aand vol glans en swier.

Vanjaar se vierde Pretoria FM Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings by die volgepakte Choose Life Ouditorium was ’n viering van Afrikaans asook van plaaslike talent.

Die toekennings die jaar is veral spesiaal want die radiostasie het sy 30e verjaarsdag op 18 September gevier.

Die splinternuwe lied “Aanhou” wat spesiaal deur Steve Hofmeyr geskryf is om Pretoria FM se 30e herdenkingsjaar te vier, is ook tydens die Aitsas bekendgestel en vir die eerste maal deur hom gesing.

Omroeper van Pretoria FM Anton Meijer en Danielle Coetzee.

‘n Rekord getal van 449 inskrywings is ontvang.

Slegs snitte wat vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 uitgereik is, kon vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ingeskryf word.

Pretoria-kunstenaars wat twee toekennings ontvang het is onder meer Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann met die liedjie “Lief ”, vir die Luisterliedjie van die Jaar, sowel as vir die toekenning Liedjieskrywer van die Jaar.

Die Pretoria FM Aitsa-musiektoekennings is deur sanger Eloff se vertoning afgeskop.

Vervaardigers Danny Smoke en Tjaart van der Walt van Van Jaarsveld se liedjie, “Ophou” het met die Vervaardiger van die Jaar-prys weggestap.

Dodo Nyoko was ’n gunsteling by die gehoor tydens sy optrede sowel as by die ontvangs van sy twee toekennings, Nuweling van die Jaar vir sy liedjie “Foto’s.” Vir dieselfde liedjie het hy ook die toekenning ontvang vir die meeste stromings op musiekstroomdienste vir manlike kunstenaars.

Bernice West.

Bernice West se liedjie “Lyfie” het luide toejuiging ontvang met haar vertolking daarvan en het met twee toekennings weggestap: Meeste Stromings vir ’n Vroulike Kunstenaar en Afrikaanse Liedjie van die Jaar.

Zaan Sonnekus se liedjie “Monitor” het hom laat wegstap met die toekenning Alternatiewe/Rockliedjie van die Jaar. Sy optrede het ook uitgestaan as een van die hoogtepunte van die aand en het die gehoor in hul ouditoriumstoele aan die beweeg gehad.

Zaan Sonnekus.

Die toekenning van Klassieke Snit van die Jaar is aan Franco Prinsloo en Vox Kamerkoor met hul Ghoera-Liedere toegeken.

Die kunstenaar Barto Swiegers se vervaardiger, Eric T Graham, het die toekenning vir die beste Musiekvideo van die jaar vir die liedjie “Impulsief ” gekry. Swiegers het ook die Popliedjie van die Jaar-toekenning daarvoor gekry.

Natasha Joubert.
Paartjie van die aand! Rockvioolspeler Scheppel het by die Pretoria FM Aitsa-toekennings opgetree en is ook genomineer in die kategorie Instrumentale Snit van die Jaar. Saam met hom is sy vrou, Liezl wat met haar fotografie- en videowerk vir Picture Perfect vir die Musiekvideo van die Jaar in aanmerking gekom het.

Die oorhandigings is onder andere deur bekendes soos die oud-Springbok en Bloubul-losskakel, Morné Steyn en die onlangs aangewese Mej Suid-Afrika, Natasha Joubert hanteer.

Die bekende en geliefde Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit is tydens die toekenningsgeleentheid vereer vir sy lewenslange bydrae tot die musiekbedryf, wat reeds strek oor ‘n tydperk van 52 jaar.

Wenner van twee toekennings, sanger Dodo Nyoka en Isabel Nel.

Dié toekenning word jaarliks deur die Aitsa Trust toegeken aan ’n persoonlikheid wat oor ’n lang tydperk baanbrekerswerk gedoen het op die terrein van Afrikaans as taal en die ontwikkeling van die Afrikaanse musiekbedryf.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button