EntertainmentLocal newsNews

Sanger kom vier sy vierde album by Atterbury-teater

Die skugter sanger met sy sogenaamde diep liedjies, bekend saam met sy orkes as Joshua na die Reën, het ’n nostalgiese reis na Pretoria onderneem om weer sy musiekwortels op te spoor.

Die sanger Joshua na die Reën oftewel Jacques de Villiers, sê een plek in Pretoria sal vir ewig in sy geheue ingegraveer bly.

En vir die mees romantiese rede moontlik.

Dié pizzaplek, Toni’s Pizzas in Rietondale is waar hy en sy vrou Danél hul eerste afspraak in 2008 as studente gehad het. Hy was toe in sy tweede jaar.

Maar die eetplek is nog lank nie die enigste rede waarom die Jakarandastad vir dié musiekster bekend vir sy diep liedjies, ’n spesiale plek in sy hart het nie.

“Pretoria voel soos huis vir my oor optreeplekke soos die Atterbury-en Afriforum-teaters,” glimlag hy met sy kenmerkende skugterglimlag.

Voeg hierby herinneringe in sy tien-jaar verblyf aan hul huisgemeente, die bydrae wat sy Pretoria-gebaseerde agent Alishia van Deventer aan sy loopbaan gemaak het en vriende by sy “huis weg van die huis”, die gastehuis Pierneefskraal.

“En die eienaars van die spysenieringsmaatskappy Laughing Chefs in Russelstraat. Hulle het my van die begin van my loopbaan hier in Pretoria aangemoedig om te skryf.”

Met soveel herinneringe is dit geen wonder hy het sy tienjarige herdenking as musikant in September juis by die Atterbury-teater in September kom vier nie.

Joshua na die Reën se vierde album word met optredes in Pretoria gevier, waar hy saam met Pretoria-musikante soos die prestige Tuks Camerata-koor, liedjies opgeneem het.

Sy vierde album Die Vallei se bekendstellingsdatum is 11 September.

Hy het juis onlangs Pretoria besoek om luistersessies hier te hou met vriende en bewonderaars.

“Ek wil met die musiek mense se laste van hul skouers kry deur te sê, kom na die vallei en weg van jou besige lewe,” vertel hy oor die nuwe album.

Hy voel gedurende Covid-19 het mense mure om hulle gebou en dalk vergeet waaroor die lewe werklik gaan.

“Ek voel ons kan almal doen met oordenkings by die samevloeiing van stil strome en riviere in ons lewens.”

Om sy liedjie “Die Groot Gees van Hemel en Aarde” saam met die Tuks Camerata vir die album op te neem, was vir hom ’n belewenis.

Hy het jare gelede saam met die prestige Pretoria-koor opgetree.

“Ek en die koorleier, Michael Barrett, het toe al gekliek. Om onlangs saam met hulle te kon sing, was ’n persoonlike voorreg en hoogtepunt.”

Hy wou met die album en die spesifieke lied die boodskap oordra.

“Ek leef met die oorheersende gevoel dat al is God en sy skepping hoé groot, hy het my en jou ook gemaak.”

Die natuur was van kleintyd af iets waarna Joshua na die Reën opgelet het op hul familieplaas, die La Rochelle Gasteplaas naby Walkerville.

Joshua na die Reën vier ’n dekade in die musiekbedryf in Pretoria met optredes rondom die vrystelling van sy vierde album, Die Vallei.

Die De Villiers-gesin woon nou ook daar.

“Om op die plaas wakker te word gee my so ’n gevoel ek is een met die natuur.”

Hy het lankal vir homself vrae rondom sy liedjieskrywery uitgepluis.

Sy lirieke se keurigversorgde woordgebruik is een van die sterk elemente van sy liedjies.

Vir hom is die opmerkings oor sy fyn genuanseerde woordkuns dikwels vreemd.

“Ek is nie lief vir lees nie. Dink nie my woordgevoeligheid kom daarvandaan nie. Ek dink dit het veel meer met my gevoel van eenheid met die natuur te make.”

Wanneer dit wel by die skryf van liedjies kom, weet hy sy skryfwerk is klaar as hy ’n liedjie vir iemand wil en kan sing.

“Daar is altyd die een besluit oor watter liedjies na die radio toe moet gaan.”

So ’n besluit los hy gewoonlik aan sy agent oor. Vir hom is dit moeilik, want hy skryf nie vir ’n spesifieke gehoor nie.

“Maar soms kry jy so ’n voltooide gevoel, en dan weet jy hierdie liedjie kan op sy eie voete staan.”

Lees meer: Scheppel se verwerkings speel beslis nie tweede viool nie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button