Local newsNews

FAK vereer oud-legende Boet Pretorius

Pretorius het talle kunstenaars oor die jare met hul musiekloopbane gehelp, insluitend Die Briels, Gé Korsten, Min Shaw, Lance James, Groep Twee en Carike Keuzenkamp.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Woensdag vir musieklegende Boet Pretorius vereer vir sy bydrae en nimmereindigende liefde vir Afrikaans en Afrikaanse musiek.

“Boet Pretorius is ’n Afrikaanse musikant, musiekregisseur, -vervaardiger en -verwerker. Hy is ’n pionier wat baanbrekerswerk op die musiekfront, veral wat Afrikaanse musiek betref, gedoen het,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder.

Pretorius sê dit is ’n groot eer wat hom te beurt val.

“My hele lewe lank het ek nog nooit musiek gedoen vir toekennings of enigiets nie. Ek het musiek gemaak omdat dit ’n liefde vir my was.

“Vanoggend sit ek en dink aan die liedjie ‘Outa in die lang pad’, van Chris du Toit wat dit geskryf het, toe sien ek myself as ‘Boet in die lang pad’, want dit was ’n lang pad gewees, ’n wonderlike pad.”

Hy sê hy kan nie beskryf hoe gelukkig mens is om in die musiekbedryf te kan wees nie. “Die beste mense in my lewe het ek hier ontmoet,” sê Pretorius.

Pretorius het talle kunstenaars oor die jare met hul musiekloopbane gehelp, insluitend Die Briels, Gé Korsten, Min Shaw, Lance James, Groep Twee en Carike Keuzenkamp.

Sonja Herholdt en Boet Pretorius. Foto: verskaf.

Pretorius het al op skool aan sangkompetisies deelgeneem en kitaar begin speel. Ná skool het hy musiekklasse bygewoon en daarna sy eie ateljee gebou.

Hy het ook langspeelplate onder die naam Dimpel Pretorius gemaak en in die orkeste van Jurie Ferreira, Nico Carstens en Hendrik Susan gespeel, sê Pretorius.

“Van ongeveer 1975 het ek by Brigadiers Musiek gewerk, wat later EMI geword het. In 1981 het ek die platemaatskappy Decibel Musiek saam met André Viljoen en Retief van Rooyen, Anneli van Rooyen se pa, begin.”

Hier was hy vir sowat 130 goue en 15 platinumplate verantwoordelik waarna hy Decibel in 2000 verkoop het.

Sonja Herholdt. Foto: verskaf.

Sonja Herholdt was die gaskunstenaar by die funksie en het met groot lof gepraat van Pretorius en wat hy vir die Afrikaanse musiekbedryf en vir haar persoonlik beteken het.

“Behalwe dat hy ’n uitstekende regisseur was en my produce het in die ateljee met al my albums van 1976 tot 1981, was hy ’n mense mens. Hy is iemand by wie jy veilig voel en jy kan hom vertrou.

“Vandag was vir my so kosbaar dat ek tussen al die kunstenaars gekies kon word om te sing voor hy sy toekenning kry. So dit is vir my ’n mylpaal in my lewe,” sê Herholdt.

Verskeie bekende kunstenaars het vandag die geleentheid bygewoon.

“As jy dink hoe ’n ver pad hy kom, met wie hy almal gewerk het, wie hy almal gehelp het om beroemd te word en treffers te kies dat dit werk. Hy het so ’n goeie oor gehad, jy weet, hy is so musikaal en hy is so ’n dierbare mens, en daai goed so bymekaar kry mens nie sommer nie,” sê Rina Hugo.

LEES >Suksesvolle ope dag voorspel groot seisoen vir stad se oudste rugbyklub

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button