Theuns Jordaan (50) verloor stryd teen kanker

" 'n Groot boom in die Afrikaanse musiekbedryf het geval."

Sanger en liedjieskrywer, Theuns Jordaan (50), het Woensdag sy stryd teen kanker verloor nadat hy verlede jaar met leukemie gediagnoseer is.

Hy het sedertdien chemoterapie ontvang en in Maart vanjaar ’n beenmurgoorplanting ondergaan.

Die geliefde sanger met sy rasper stem het harte gesteel met sy verwerking van “Beautiful in Beaufort-Wes”. Jordaan het in 2001 sy debuutalbum, Vreemde Stad gemaak.

 

Hy was een van Afrikaanse musiek se mees suksesvolste kunstenaars met verkope van meer as ’n miljoen albums.

Die nuus van sy dood het skokgolwe die land ingestuur.

 

 

Jannie du Toit, wat gehore al vir die afgelope 50 jaar met sy stem betower, het sy medelye vir Jordaan getoon.

“Theuns het ’n reusebydrae tot Afrikaanse musiek gemaak. “Hy was ’n goeie mens en hy laat ’n groot leemte in die musiekbedryf agter.”

Suid-Afrikaanse musikant, akteur, skrywer en koskenner, Lochner de Kok sê dat die nuus oor Jordaan se dood hom platgeslaan het. “Ek het vir Theuns nog een jaar by Klein Karoo Nasionale Kunstefees hoor kitaar speel en toe het ek al geweet dat hierdie man ’n groot bydrae tot die musiekbedryf gaan maak.

“Met die vrystelling van sy eerste album, het hy ons ‘grotes’ in die bedryf bedank wat na ‘jong’ musikante omgesien het.

“Ek gaan hom baie mis. Hy was ’n eerlike en opregte mens. Rus in vrede my vriend.”

Bemarking- en mediabestuurder van Innibos, Sandra Jacobs sê dat Jordaan een van die fees se groot hoogtepunte op die verhoog was.

“As ’n kunstenaar, maar ook as ’n mens, sal hy gemis word.”

Die akteur en musikant, Bouwer Bosch noem dat Jordaan die sagste mens en ’n “gentleman” was.

“Theuns was ’n fenomenale sanger en liedjieskrywer. Hy was ’n mense-mens deur en deur.

Hy het altyd dié rondom hom se beste belange op die hart gedra.”

Musikant, Pieter Koen sê dat ’n groot boom in die Afrkaanse musiekbedryf geval het.

“Theuns het nie grys areas gehad nie. Ek het hom geskakel vir raad en ons het gereeld koffie geniet.

“Hy sal gemis word, veral vir die werk wat hy in Afrikaans gedoen het, maar ook as ’n vriend.”  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf:  Rekord East

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version