SKOOL: Affies maak hul stemme dik

Affies kan vanjaar die tiende agtereenvolgende jaar met minstens twee nasionale debattitels in hierdie kompetisie spog.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het vanjaar met die titel as die nasionale junior wenners én naaswenners in die ATKV se debatkompetisie weggestap.

Dié kompetisie is op Saterdag 18 Augustus op Buffelspoort gehou.

Dit beteken dat Affies vanjaar die tiende agtereenvolgende jaar met minstens twee nasionale debattitels in hierdie kompetisie kan spog, wat andermaal bevestig dat Affiedebat die leidende lig in hierdie baie strawwe kompetisie bly.

Daar is twee afdelings, naamlik ’n senior en ’n junior kompetisie, met sowat 600 spanne wat jaarliks deelneem.

In die senior kompetisie het Affies se graad 10-span bestaande uit Henri van der Westhuizen en Reuben Coetzer hul veldtog in die top vyf nasionale plekke afgesluit, wat deur Jacques Botma en Mihan van Zyl van Paul Roos Gimnasium (Stellenbosch) gewen is.

In die junior afdeling (grade 8 en 9) is die span van Wilhelm Warmenhoven, Jan Wiese en Rudolph-Johan Cilliers as die land se kampioenspan aangewys, met Rudolph wat ook die beste taalgebruiker in die kompetisie was.

Wiese is as die beste debatteerder aangewys.

Die land se naasbeste juniorspan het bestaan uit Christiaan Snyman, John Hartslief en Kyle van Niekerk, wat net-net die knie moes buig voor hul skoolmaats.

Die kompetisie bestaan reeds sedert die jare sewentig, terwyl Affies se Debat- en Kultuurvereniging reeds op 21 Julie 1920 gestig is.

Dit is daarom nie verrassend nie dat die skool ’n noue verbintenis met debat het, wat dan ook die afgelope klompie jare daartoe gelei het dat die skool vanjaar die tiende keer as nasionale kampioene aangewys is – met die naasbeste skool op drie nasionale titels.

Vanjaar was ook die vyftiende agtereenvolgende jaar wat die skool ’n span na die nasionale finaal kon laat deurdring.

Die Affie-redenaars het hul stemme dik gemaak.

In die senior voorbereide redenaarskompetisie vir Afrikaans Huistaal het Hanno Prinsloo met die louere weggestap en LT de Jager was tweede.

Katleho Molakeng was die beste taalgebruiker in die junior voorbereide afdeling vir Afrikaans Addisionele Taal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version