SKOOL: Anton van Wouw Kinderkoor sing in Harmonie-koorkompetisie

Die kultuurgeskiedenisboeke by Laerskool Anton van Wouw is inderdaad herskryf.

In die herfsmaande sing die Anton van Wouw Kinderkoor almal se harte vuurwarm!

As ’n jaarlikse hoogtepunt, neem dié koor sonder uitsondering reeds sedert 2015 deel aan die Sing in Harmonie- koorkompetisie op kykNET, wat gereken word as die grootste koorkompetisie in die land.

Kore word tydens hierdie spoggeleentheid die kans gegun om hul talente op nasionale televisie ten toon te stel.

Sedert koormeester Vaughan van Zyl, voorheen verbonde aan die Drakensbergse Seunskoor, in 2015 aangestel is, maak die Wouwtjies skoonskip by Sing in Harmonie!

In 2015 tree die koor as landswye wenners uit die stryd van die nasionale kompetisie.

Die reëls van die kompetisie bepaal dat die Anton van Wouw Kinderkoor tydens 2016 nie mag deelneem nie, maar hulle het wél die voorreg om tydens die finale ronde as gaskunstenaars ’n item tydens die regstreekse uitsending te lewer.

In 2017 word hulle aangewys as die nasionale kampioen vir kore in die informele afdeling. Beslis ’n besondere prestasie!

kykNET kom na afloop hiervan vorendag met die konsep van ’n “Kampioen van die Kampioene”-kompetsie waar al die wen-kore van Sing in Harmonie (sedert 2014) teen mekaar kompeteer vir die eer om as beste koor in hul kategorie aangewys te word.

Tydens die regstreekse, nasionale uitsending van hierdie unieke geleentheid, word die Anton van Wouw Kinderkoor beloon vir hul toewyding en harde werk deur as die beste Seniorkoor in die Informele kategorie in Suid-Afrika oor die afgelope vier jaar bekroon te word!

Die kultuurgeskiedenisboeke by Laerskool Anton van Wouw is inderdaad herskryf.

In 2018 besluit koormeester Vaughan van Zyl om ’n nuwe uitdaging aan te pak en skryf die Anton van Wouw Kinderkoor in die Formele afdeling van Sing in Harmonie in.

Op 11 Mei 2018, stap hul weereens met die louere weg as die episode-wenners in hul kategorie en dring gevolglik deur na die Finaal van Sing in Harmonie vir 2018.

Die kombinasie van koormeester Vaughan van Zyl se besondere kundigheid, die toewyding van die koor se organiseerders, Me. Liezel Botha en Johani Labuschagne en elke koorlid se deursettingsvermoë en getroue, harde werk, verseker dat dié baie spesiale erflating in die koorkultuur van Laerskool Anton van Wouw ’n blywende indruk laat.

Me. Lezanti van Sittert, Koormeester Vaughan van Zyl, Juf. Liezel Botha en Juf. Johani Labuschagne. Foto: Voorsien

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version