5 ou Afrikaanse flieks op Showmax wat jou weer sal laat skater en snik

Van die jare dertig tot laat sestig van die vorige eeu - hier is 'n fassinerende blik op die ontwikkeling van die Afrikaanse rolprentbedryf.

Met Showmax se kykNET Afrikaanse (en soms tweetalige) flieks kan jy sien hoe Afrikaanse leefwyses, sienswyses en waardestelsels oor die dekades verander het. Om nie van die aansitterige taalgebruik te praat nie!

Van al die nuwe Afrikaanse gunsteling soos Boer Soek ‘n Vrou, Liefling en Die Boekklub, bied Showmax jou ook ‘n gulde geleentheid om weer besoek af te lê by ou gunstelinge wat jou dalk laat snik het, soos Debbie of laat skater het soos Jamie Uys se geniale komedie Daar doer in die bosveld.

Sarie Marais, 1931, musiekblyspel, Joseph Albrecht

Daar onder by die mielies by die groen doringboom…

Die rolprent is een van die eerste “talkies” wat in Suid-Afrika gemaak is.

Die volksliedjie, Sarie Marais, was die naaste wat Afrikaners destyds aan ‘n tweede volkslied sou kom, meen die destydse filmmakers. Sarie, “wat so ver van my af woon nog voor die oorlog het begin” se verhaal moes vertel word. Die storie gaan oor ‘n krygsgevangene in Ceylon, Jan (wat deur Billy Matthews gespeel word), wat terugkom Suid-Afrika toe na die Boereoorlog. Joan du Toit vertolk die rol van die treurende Sarie. Jan droom van die dag wat hy na sy Sarie, wat by ‘n waterval onder ‘n doringboom vir hom wag, sal terugkeer. Kyk nou »

Kom saam Vanaand, 1949, musiekblyspel, Pierre de Wet

Een van ons bekendste en gewildste ouskool komediante, Al Debbo, maak ook sy verskyning in die rolprent.

Die baanbreker Pierre de Wet, alom beskou as die vader van die Afrikaanse rolprentbedryf, kraai koning in die jare 50.

Hy het aan 18 Afrikaanse rolprente gewerk, was die regisseur van 17, en die draaiboekskrywer van 15, terwyl hy van die mees produktiewe en begaafde filmmakers in die Afrikaanse rolprentbedryf oorspronklik bymekaar gebring het.

Ligte vermaak (komedies en musiekblyspele) het in die jare 50 en 60 sukses by die loket verseker.

Kom saam Vanaand is SA se eerste musiekblyspel. Dit gaan oor ‘n jong meisie wat verlam word in ‘n ongeluk. ‘n Plaaslike talentagent reël ‘n konsert om geld in te samel om haar oorsee te stuur vir ‘n operasie. Groot Afrikaanse musiekname van die era is ook by die rolprent betrokke – Hendrik Susan, Jan Pohl, Danie Bosman en Nico Carstens.

Altesame agt van De Wet se rolprente kan op Showmax gesien word. Kyk nou »

Daar doer in die bosveld, 1951, komedie, Jamie Uys

Jamie Uys se ikoniese hekoopmaaktoneel.

Die prent is in die sesde posisie op die bekende rolprentresensent, Leon van Nierop, se lys van toptien Afrikaanse rolprente.

Dit is die geniale Uys se eerste rolprent. Hy skryf die draaiboek, vertolk die hoofrol teenoor sy vrou Hettie, is die regisseur en vervaardiger van die film.

Hans Botha is ‘n oujongkêrel wie se hande vir niks verkeerd staan op sy plaas nie. Hy kan selfs sy skedonk van ‘n Ford-Bakkie aan die gang hou. Maar dan verskyn die pragtige nuwe onderwyseres, Martie du Toit, op die toneel en Hans raak heeltemal verbouereerd. Die een skreeusnaakse katastrofe volg op die ander wanneer Hans in haar teenwoordigheid is.

Die hekoopmaaktoneel bly een van die snaaksste tonele nog in ‘n Afrikaanse rolprent. Jamie se komediegenialiteit  word dan ook met die van Charlie Chaplin vergelyk. Kyk nou »

Debbie, 1965, drama, Elmo de Witt regisseur en Jamie Uys vervaardiger

Paul en Debbie se tragiese verhaal sal jou weer laat snik en herinner aan hoe sedes, waardes en norme verander het.

Die wyedoek-rolprent is gebaseer op Tryna du Toit se 1948 blitsverkoper Groen Koring.

Die rolprent was uiters omstrede omdat dit handel oor ‘n ongetroude jong student wat swanger raak. Dit is oorspronklik ‘n ouderdomsperk van 16 opgelê, wat daarna na 21 verander is. Die perk is later opgehef.

Debbie (Susanne van Oudtshoorn) is ‘n onskuldige plaasnooi wat op universiteit swanger raak. Paul (Leon le Roux), die pa van haar kind, wil met haar trou maar wanneer sy pa voorstel dat hulle die baba laat aanneem sodat hy sy mediese studies oorsee kan voortsit, weier Debbie om met hom te trou omdat hy “te maklik die gerieflike uitweg gekies het”. Sy word opgeneem in ‘n tehuis vir ongehude moeders en gedwing om haar baba af te staan vir aanneming.

Jare later beland ‘n beseerde dogtertjie onder Paul se mes in die hospitaal. Debbie en Paul het pas uitgevind dat dit hul kind is. Paul red die meisietjie se lewe.

Debbie eindig stomp, waarskynlik nadat die sensors dit beetgehad het. Die betraande gehoor verwag ‘n versoening tussen Paul en Debbie, maar die doek doof na swart met die titels “Regisseur Draaiboek Elmo de Witt”.

Die prent eindig dus op ‘n waarskuwende noot met ‘n duidelike boodskap: Seks buite die huwelik word nie geduld nie en word wreed gestraf.

Die room van destyds se Afrikaanse akteurs was in die fliek te sien –  Gert van den Bergh, Cobus Rossouw, Emsie Botha, Siegfriedt Mynhardt, Dawid van der Walt, Hettie Uys, Sann de Lange en Wena Naude. Kyk nou »

Hoor my lied, 1967, musiekblyspel, Elmo de Witt

Hoor my lied was die eerste Afrikaanse rolprent wat meer as R1 miljoen verdien het.

Na sy geliefde sangeres-vrou (Min Shaw) se dood, beland Gé Korsten, ‘n dokter, in ‘n ongeluk waarin sy dogtertjie, Marietjie (Lindie Roux), verlam word.

Martin Pols oftewel fotoboekieheld, Mark Condor, wat met Gerhard Viviers se stem praat, en Helga van Wyk is verantwoordelik vir die ongeluk. Dr. David begin blind word en Marietjie kan nie loop nie.

Hoewel die dialoog en spel, tipies van die tyd, styf, aansitterig en onnatuurlik is, het gehore na die glansryke Hoor my lied, met sy mooi mense in wonderlike modes, gestroom. Kyk nou »

En wie sal ooit die toneel vergeet waar Gé vir ‘n hospitaal vol siek mense Kersliedere sing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version