Vreugde en trane oor Ruben se kortstondige lewe

"Ds. Marcelle Smulders, wat die diens waargeneem het, het gesê wat Ruben aan almal rondom hom geleer het, was om Psalm 23 te leef."

Sy lewetjie was kort, maar die sesjarige kankerlyertjie Ruben Scharneck van Faerie Glen was ’n inspirasie.

Sowat 400 roubeklaers het Saterdag by die NG Kerk Moreletapark byeengekom om sy inspirerende lewe te gedenk.

Sy familie het besluit om die herdenking sy lewe te vier, wat beteken dat daar vreugde en dankbaarheid was tesame met die trane.

LEES OOK: LUISTER: Help Ruben om ander kankerlyertjies te help

In hul gedagtes het kanker nie die stryd gewen nie. Met sy positiewe lewensuitsig, het Ruben oorwin.

Daarom het sy familie vir die herdenking vrolike goed aangelê, soos lekkers, spookasem en oliebolletjies.

Ná die diens is ballonne hemelwaarts gestuur.

Ruben se gunstelingkleur, oranje, was die tema-kleur.

Hy is in 2014 met neuroblastome kanker gediagnoseer.

Nadat hy deur talle sessies van chemo is, het sy gesin in 2016 besluit om hom nie weer chemo te laat ondergaan nie omdat dit hom te siek gemaak het.

Ruben is op 25 Februarie dood omring deur familielede.

LEES OOK: Pta-oos kankerlyertjie verloor sy stryd

Ds. Marcelle Smulders, wat die diens waargeneem het, het gesê wat Ruben aan almal rondom hom geleer het, was om Psalm 23 te leef.

“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Nooit een om te gaan lê nie, het Ruben uit sy siekebed gestaan om sy eerste dag in graad 1 by die Laerskool Menlopark by te woon,” het Smulders gesê.

“Sy ander doelwitte is ook bereik: hy het selfs die Afrikaanse Hoër Seunskool vir ’n dag as gas bygewoon, en – met toga en studentekaart – is hy ook deur die Universiteit van Pretoria vereer.”

Vir dié wat Ruben geïnspireer het, wat meer as 9 000 “Followers” op Facebook ingesluit het, was Ruben ’n Superman.

Ruben self was ’n aanhanger van dié strokiesheld.

Verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars het die bekende Superman-liedjie “Superhero” heropgeneem vir Ruben.

Ruben en sy ouer boetie, Rossouw (12) sing ook.

“Die twee daggies wat ek sonder jou is, is die slegste twee dae van my lewe,” het Rossouw in ’n afskiedsbrief aan Ruben geskryf.

LEES OOK: Kankerlyertjie Suné sterf

Die Scharneck-gesin het nou besluit om deur dit wat hulle geleer het van Ruben se siekte ander mense te help wat in dieselfde situasie is.

Alle verkope van die liedjie sal na Hope4Ruben gaan en gesinne help wat in dieselfde bootjie is.

Van die kunstenaars op die liedjie sluit in: Marulaboom, Jakkie Louw, Gary Forward, Jerry Spangenberg, Sharoney, Zandré, Elme Jacobs en Heidi.

Die enkelsnit is deur Pieter Smith wat ook Saterdag die gedenkdiens bygewoon het.

Die lied kan afgelaai word op iTunes deur Superhero (hoop vir Ruben) te soek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version