Melgesedek se permanente stank

Na jare en vele beloftes bly Melgesedek ’n groot kopseer en gesondheidsrisiko in die Moot.

Rou riool loop vrylik buite Melgesedek, die historiese gebou wat in 1927 deur oudburgemeester raadslid CM de Vries onthul is. Aldus die inskrywing op die naamplaat.

Vullis lê in hope en kinders maak kos op oop vure terwyl ouers op matrasse – of enigiets wat as bed kan dien, lê en slaap.

Dwelmgebruik is algemeen en die Melgesedek-inwoners wat hierdie hul tuiste gemaak het, handel in en gebruik openlik dwelms.

Inwoners in die Riviera-omgewing sê die berugte Melgesedek-gebou bly ’n nes vir onwettige immigrante, prostitute, dwelmhandelaars en misdadigers.

Na talle klagtes van die publiek en polisie-strooptogte verlede jaar is die Tshwane-metro nou weer gevra om op te tree.

DA-raadslid, Elma Nel, wat gereeld Melgesedek besoek tydens uitreik- en rehabilitasieprogramme, sê die metro het ’n lakse houding wanneer dit by die ‘Melgesedek-probleem’ kom.

Die DA bring by die volgende raadsvergadering ’n mosie wat daarop aandring dat vorige besluite om Melgesedek op te ruim, nou uitgevoer moet word.

“Daar is reeds verskeie kere aanbeveel dat die inwoners van Melgesedek elders gehuisves moet word,” sê Nel.

Tydens vorige onderhoude met die Moot-polisie is daar vasgestel dat daar ’n noemenswaardige toename in misdaad was sedert Melgesedek ’n hawe vir dwelmhandelaars- en verbruikers geword het.

Mike Burt, voorsitter vir Capital Park-subforum, sê tydens strooptogte by Melgesedek is dit algemeen om gesteelde items te vind waarop daar dan saam met die hope dwelms beslag gelê word.

“Die haglike omstandighede waarin die inwoners moet bly, is ook ’n ernstige gesondheidsrisiko,” vertel Nel verder.

Rommelhope lok rotte en peste wat saam met die menslike-inwoners hul tuiste hier gevind het.

Stukkende toilette in afgebreekte badkamers is van die oorsake dat riool vrylik buite die perseel vloei.

Slegs een gedeelte van die gebou, ’n saal waar bejaardes saans slaap, is leefbaar.

Nel het weer die ‘Melgesedek-pro­bleem’ met die metro opgeneem.

“Die Tshwane-metro is bewus van die probleem en sal ondersoek instel,” het Tshwane-metro woordvoerder Lindela Mashigo aan Rekord gesê en beloof om spoedige terugvoer te gee.

Tot en met beloftes nagekom word, meen inwoners wat in die omgewing bly dat Melgesedek ’n seer oog is met ’n permanente stank wat in die lug hang.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version