CrimeLocal newsNews

Modeontwerper geteiken deur polisie

Pretoria modeontwerper deur JMPD lede in hegtenis geneem en gedwing om omkoopgeld te betaal.

’n Modeontwerper van Pretoria is glo gistermiddag wederregtelik deur lede van Johannesburg se metropolisie in hegtenis geneem en beroof.

Henja Schaap sê hy is Woensdagmiddag in Marlboro-rylaan voorgekeer.

“Ek was saam met ’n vriendin in die kar. Ons het net van die hoofweg afgeklim en in Marlboro-rylaan gedraai toe vier lede van die metropolisie my voorkeer en daarvan beskuldig dat ek op my foon besig was,” sê Schaap.

“Ek het toe vir die ou gewys hoe laat my laaste oproep was en dat ek nie my foon gebruik het nie. Hy het toe sy humeur verloor en op my begin skree.”

Volgens Schaap het die polisieman rassisties geraak en geskree: “We don’t need your f*cking white trash. Black men rule this country, and I will f*ck you up.”

Toe Schaap nie sy ID dokument kon wys nie, het die polisielede blykbaar gedreig om beslag te lê op die voertuig, wat aan Schaap se vriendin behoort.

“Na ’n lang gestryery het die polisielede my vriendin laat gaan, maar my in hegtenis geneem,” sê Schaap.

“Twee van die polisielede het my toe in een van hulle karre gedwing en met my weggery. Een het bestuur en die ander een het agter by my gesit. Ons het tot in Foxstraat gery toe hulle uiteindelik die kar parkeer.”

Die polisielede het Schaap glo gedwing om aan hulle te wys hoeveel geld hy in sy bankrekening het en het hom alles laat trek.

“Hulle het my met net R27 gelos. Nadat ek al my geld oorhandig het, het hulle my na die verkeersdepartement gevat en ’n R625 boete laat betaal. Ek het ’n strokie daarvoor gekry.”

Schaap is toe in Corlett-rylaan afgelaai.

“Ek is aangesê om uit die kar te klim en dat ek moet dankbaar wees om nog te lewe,” sê hy.

“Ongelukkig het ek baie kliënte wat ek nog moet gelukkig hou en het nog nie eens kans gekry om ’n klag te lê nie. Ek is net dankbaar dat hulle my geen fisieke leed aangedoen het nie.”

Wayne Minnaar, hoofsuperintendent van die Johannesburg se metropolisie, sê enigiemand wat klagte teen lede het, moet dit so gou as moontlik aanmeld.

“Sonder ’n klagte kan daar geen ondersoek wees nie,” sê hy.

Klagtes kan aangemeld word by die telefoonnommer 011-490-1797.

Schaap was al voorheen die teiken van misdaad.

In 2007, terwyl hy by ’n vriendin se verjaarsdagpartytjie in Monument Park was, is hy en die ander gaste deur twee gewapende mans aangehou.

Een van die mans het ’n pistool teen Schaap se kop gesit en die sneller gtrek. Die skoot het gelukkig nie afgegaan nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button