Pendel in styl by vanjaar se Innibos-fees

Los al jou parkeringkopsere by die huis en geniet Innibos met 'n geruste hart.

MBOMBELA – Los al jou parkeringkopsere by die huis en geniet Innibos met ‘n geruste hart. Om die feesterrein maklik te bekom is van kardinale belang en beperkte parkering kan die bloeddruk in die rooi in jaag, daarom word die welbekende, gratis stop-en-hop-diens weer vanjaar aangebied.

Alle busse vertrek daagliks elke halfuur vanaf I’langa Mall, asook vanaf Emnotweni Casino by Riverside Park. Die eerste een vertrek om 09:30 en die laaste ‘n halfuur na afloop van die hoofkonsert. Feesgangers kan gratis en veilig by hierdie winkelsentrums parkeer en die rigtingbordjies wat aangebring is volg.

Dit is veral belangrik om te onthou om ‘n pass-out-kaartjie te kry sou feesgangers besluit om later die dag weer ‘n draai by die terrein te maak. Feesgangers word by Hek 1 van die terrein op- en afgelaai. Die Innibos Stop-en-hop was verlede jaar ’n treffer en die gees is beslis iets besonders. Kom geniet gerus weer hierdie gratis diens.

‘n Alternatief is om soos ‘n ware toeris op die Bossewa te ry. Met komplimente van TRAC is daar weer vanjaar gesorg vir moeitevrye vervoer van en na feesproduksie-venues. Die Bossewaens is eintlik spesiale wildbesigtigingsvoertuie wat feesgangers in unieke styl vanaf die feesterrein na enige van die sale of venues waar produksies aangebied word, neem. Wees verseker dat die koppe gaan draai.

Dié diens is nou reeds ’n instelling by Innibos en feesgangers wat in die verlede van die Bossewaens gebruikgemaak het, sal kan getuig dat verkeersknope en parkeerprobleme heeltemaal uitgeskakel word. Daar is een sentrale optel- en aflaaipunt by die feesterrein – Bossewaplein, wat op die parkeerterrein by Hek 1 geleë is. Die kaartjies is net R20 per rit.

Die Bossewaens vertrek 30 minute voor die begin van ’n vertoning vanaf Bossewaplein na die venue. Ongeveer 20 minute na elke vertoning is die Bossewa weer daar om feesgangers terug na die feesterrein te neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version