By vanjaar se Innibos-fees is daar beslis iets vir elkeen

Hierdie jaar is daar 64 nuwe uitstallers met die allermooiste kunsprodukte.

Soos elke jaar is die uitstallers by Innibos van hoogstaande gehalte – daar is altyd beslis iets vir elkeen. Hierdie jaar is daar 64 nuwe uitstallers met die allermooiste kunsprodukte.

“Dit sal hulle eerste besoek by die fees wees. Dit is nuwe en vars produkte en feesgangers kan beslis na ‘n groter verskeidenheid uitsien,” sê Innibos se Alison Linde wat in beheer van die uitstallers en admin is.

Kosliefhebbers kan ook na ‘n hele nuwe klomp stalletjies uitsien, onder andere die een waar ‘n paella wat een meter in deursnee is, in groot panne voorberei word. The Naked Bone, wat bekend vir hulle hoenderdisse is, is ook hierdie jaar vir die eerste keer in die Laeveld. Nóg ‘n nuweling, wat spesiaal vir die gesondheid-ghoeroes is, is die stalletjie waar jy jou eie slaai kan bou. Iets wat jy beslis nie moet misloop nie, is die Auxano Deli-restaurant wat bo in die lug gebou word.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie jaar se fees. Die aand voor die fees begin, gee ons ‘n funksie vir ons uitstallers in die kykNET Kuiertent. Wat ‘n gedoente. Die kleure is swart en wit en glo my as ek sê alles van die tafels tot die kleredrag is swart en wit. SAARKIE gaan die aand die uitstallers vermaak.”

Die Bosmôl gaan hierdie jaar in wit en blou getooi word. Daar gaan vir die eerste keer ook ‘n wyntuin in die piazza gemaak word. Jy kan aan die lekkerste koek en soutighede smul.

Vanjaar is daar 215 kunsmarkstalletjies in die môl, ongeveer 40 kosstalletjies en 35 visuele kunsstalletjies in die Kuns InniPark. Gepraat van die Kuns InniPark. Spierwit gaan dit wees. Die bome gaan versier word met wit lint en balle. Wit geverfde takke gaan orals rondstaan en in die aand word die bome met groen beligting belig.

Moet nie die Bosmôl by vanjaar se Innibos wat vanaf 1 tot 4 Julie op Hoërskool Bergvlam se gronde plaasvind, misloop nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version