‘Grafte’ kry laaste rusplek in botaniese tuin

Die bekende kunstenaar Willem Boshoff het besluit om die botaniese tuin die laaste rusplek van sy Garden of Words III te maak.

MBOMBELA – Die botaniese tuin sal voortaan die finale rusplek vir duisende “blomme” wees. Die bekende kunstenaar Willem Boshoff het besluit om dié tuin die laaste rusplek van sy Garden of Words III te maak.

Boshoff is vanjaar Innibos se feeskunstenaar. Buiten die werke wat hy in Julie in die stadsaal sal uitstal, sal sy blombegrafplaas voortaan net agter die botaniese tuin se teetuin te siene wees.

Die “blomme” se blare is sakdoeke waarop die name van plante gedruk is. Dit word in ‘n klein rooi plastiekkoppie, wat ‘n papawer voorstel, gemonteer. Dit word weer op ‘n plastiekstokkiestingel gesit en in blokke, wat grafte voorstel, staan gemaak. Besoekers kan tussendeur die “grafte” stap. Alles is simbolies van ‘n gedenktuin, soos vir ontslape soldate.

John Anthony Boerma, Taki Mamatsharaga, Renate Scholle, Willem Boshoff en Sekgabo Kedijang.

“Plante is besig om te verdwyn. Volgens die internasionale unie vir die bewaring van die natuur se rooilys van bedreigde spesies sal sowat 30 000 plante wêreldwyd oor 100 jaar verdwyn.”

Hy werk dus met die nommer 30 000, maar gebruik slegs die name van plante wat hy deur interaksie daarmee leer ken het. Al die plante wat op die sakdoeke voorgestel word is egter nie bedreig nie, omdat van hulle al so skaars is dat Boshoff hulle nie kan leer ken nie.

“As hulle weggaan sal dit my raak want ek ken hulle,” verduidelik hy.

Die eerste uitstalling het net 5 000 plantname bevat. Die tweede een 10 000. Garden of Words III is die eerste keer in Kirstenbosch in Kaapstad in 2007 uitgestal. Dit bevat 15 000 plantname en dit wys die nommer wat die mensdom kan verloor.

Sedertdien is dit regoor die wêreld in wind en weer uitgestal.

“Dit het regtig goed gehou, maar is nou op sy laaste bene.”

Boshoff moes die finale uitstalling ietwat kleiner maak om by die botaniese tuin se spasie in te pas. Die kunstenaar beplan egter klaar aan die vierde uitstalling, wat meer plante sal voorstel. Boshoff sê hy het al sy “versameling” tot 20 000 plante uitgebrei.

Volgens die tuin se kurator, Taki Mamatsharaga, is hy opgewonde om die uitstalling te huisves.

“Ons doen ook moeite om plante wat se getalle afneem te beskerm, anders mag ons hulle in die toekoms heeltemal verloor.”

Volgens Renate Scholle, bestuurder van Riverside Park, het hulle die arbeid om die installasie te maak, ter ondersteuning bygedra. En hoewel hul diensteverskaffer Sitanani wel vir die mannekrag betaal word, het hulle Woensdag sommer ekstra hande saamgestuur om handjie by te sit.

Volgens John Anthony Boerma, die kunskurator by die fees, sal hulle seker teen die tyd dat Innibos op 1 Julie afskop, klaar wees. Maar Boshoff sê as dit nie is nie, kan mense kom luister na die perkussiemusiek van hulle getimmer aan die gedenktuin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version