“God is ‘n God van wonderwerke,” sê ma oor dogtertjie se “doodsvonnis”

Anevay Jacobs, die dogtertjie wat aan die seldsame Moyamoya-siekte ly, se ouers het Woensdagaand blou ballonne in die skemer opgestuur. Dit was 'n herinnering aan elke kind in die wêreld wat aan die siekte ly en aan hulle ouers wat saam met hulle hul lydingspad stap.

“Halleluja…”

Sestig stemme het Woensdagaand saam met blou ballonne teen ‘n skemer horison by die duiweklub in Wierdapark, Centurion, in ‘n prysing opgestyg. Daarna, terwyl die ballonne soos ‘n swerm voëls op vlug getrek het, het ‘n gewyde stilte gevolg.

Toe ‘n kinderstemmetjie wat kliphard sê: “Jissie.”

Die trane het in gedempte giggels verander en klein Anevay Jacobs (3) het soos enige ander “dametjie” van haar ma, Gerda Jacobs (38), se heup afgespring en na die aantreklike “oom” Marcus Muller, wat die rol van Stef Retief in die kykNET-sepie Villa Rosa vertolk, gehardloop.

Die enigste teken van die gevreesde siekte wat haar klein lyfie stadig maar seker opvreet was die drie pleisters wat die operasiewonde aan haar koppie bedek.

Dit was ook Wêreld Moyamoyadag en klein Anevay is net een van sowat 300 000 kinders wêreldwyd wat met die gevreesde siekte gediagnoseer is.

Daarom het haar ouers, Gerda en haar lewensmaat, Roulien Heymans (37) ook besluit om daardie skemeraand hulde te bring aan kinders wat aan die siekte ly.

Die siekte, wat ‘n vernouing van die are veroorsaak en suurstof- en bloedtoevoer na die brein voorkom, is ongeneeslik. Anevay het al twee beroertes gehad.

Rekord het in Maart berig oor die kleinding wat ‘n dringende operasie moes ondergaan om haar lewe te verleng.

Sy is toe op 16 April by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad geopereer, maar die dood klop steeds aan haar deur.

Maar in haar pienk gebreide rokkie en blommetjieshoedjie het sy soos enige kleuter saam met haar maatjies op die grasperk baljaar – onbewus dat haar ouers ook die stryd saam met haar baklei.

Jacobs sê hulle sal eers oor sowat drie maande weet of die breinoperasie suksesvol was. “Intussen gaan dit baie goed met haar. Sy het weer leer loop en sien ook gereeld ‘n spraakterapeut.”

“Jissie,” sê Anevay wat nou genoeg gehad het van “oom Marcus” en weer op haar ma se skoot klouter.

Jacobs en Heymans se vriende, onder wie nog twee Villa-akteurs, Marisa Drummond, en André Lötter, het saam met hulle gebid. “Ons weet ons sal die herstelpad nie alleen stap nie, Dankie vir al ons vriende,” het Heymans gesê. Amper al Anevay se kleuterskoolmaatjies en hulle ouers was daar.

Drummond se dogtertjie is saam met Anevay in die skool en dit is waar haar pad met die brawe dogtertjie s’n gekruis het.

Lötter, wat die rol van Liam le Roux in dié sepie vertolk, sê hy was nie eens bewus van die siekte tot Drummond hom van Anevay vertel het nie. “Ek is baie lief vir kinders. Ek wil ook nou meer betrokke raak by Moyamoya-bewusmakingsveldtogte.”

Elke volwassene en elke kind het ook ‘n pienk of blou Moyamoya-bandjie gekry.

“Al is die siekte ongeneeslik, weet ek daar is ‘n kans dat sy volkome kan herstel, want God is ‘n God van wonderwerke,” sê Jacobs.

“Jissie,” sê Anevay weer en hardloop op haar dun beentjies na haar maatjie toe. Soos enige ander kind.

Lees ook: Seun benodig hulp ná besering

Kenner praat oor bipolêre depressie by kinders

Almal welkom by gesinsfees ten bate van CANSA

Ewige tuin vir die Afrikaanse liedjie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version