Op die Rekord: Generaal-majoor Suiker Britz

Op die Rekord met Yolanda Barnard.

Dit is sy gunsteling stoel. Die bruin uitskopstoel waarop hy sy dae om mymer. Voor die platskermtelevisie in sy luukse meenthuis in Wingatepark in die ooste van Pretoria.

Misdaadstories kyk hy nie, “want hy los die moord op nog voordat die stories hul klimaks bereik”.

Deon Meyer se boeke lees hy ook nie, want hy verstaan die siel van ‘n misdadiger. Beter as wat enige skrywer ooit sal verstaan.

Sy skoene het al deur baie bloed geloop, maar dan skrop hy net die spatsels en loop weer van die een moordtoneel na die volgende.

Generaal-majoor Suiker Britz (71) – afgetrede bevelvoerder van Pretoria se nou gestorwe moord- en roofeenheid – se oumansbene is vol blou are. Baie soos die ink wat sy duisende dossiere bevlek het.

Sy blou oë kyk waserig deur sy brillense. Oë wat al baie gesien het – twee kindertjies wat in die jare 80s in Waverley deur inbrekers in die motorhuis opgehang is. Nog in hul skoolklere. Tassies op hul rûe. Die pa 28 keer met ‘n mes gesteek. Die ma langs haar kinders opgehang.

Hy het die twee misdadigers binne ‘n dag opgespoor en toe skiet hy hulle morsdood. Lekker dae, daardie in Suid-Afrika, onthou hy.

Die bekende pedofiel Gert van Rooyen wat hy inhegtenis geneem het vir kindermolestering – lank voor die meisies se verdwyning.

Toe loop hy hom eendag in ‘n winkel raak: “Ja, jy,” snou hy toe. “Los jy die kinders uit?” Profetiese woorde, want skaars ‘n paar maande na die vlugtige herkenning het die een meisie na die ander verdwyn. “Daardie meisies is dood. Almal van hulle.”

Die Kerkstraat-bom. Lywe wat stukkend geruk is deur skrapnel. ‘n Kop wat los van die lyf lê. Hy het alles gesien en nooit ‘n traan gestort nie. En nou hier in die winter van sy lewe sit hy en en sy nuwe vrou, Annetjie, en Notebook kyk en hy huil. Krokkediltrane oor romantiese liefdesverhale.

Hy was die polisie se sterondersoeker. Vergeet maar van brigadier Piet Byleveld. “Hy is ‘n regte jamsteler” (die polisie se term vir polisiemanne wat misdaadoplossings aan hulle self toedig).

“Ek lees in die koerante dat ou Piet nou op die verhoog sit en vir die hase (dit is nou gewone mense) vertel oor sake waarby hy nie eers betrokke was nie.” ‘n Ligte snork en ‘n wolk rook wat by sy mond uitpeul.

Die media het hom ‘sweet sugar’ en ‘mr Fix-it’ genoem. Elke saak het hy opgelos. “My drie borshaartjies het sommer so regop gestaan as die advokate oor my sake baklei het. My dossiere was volledig. ‘n Paar misdadigers is ook die doodsvonnis opgelê.”

Hy besoek ook die dokters gereeld. “Oumenskwale. Hoë bloeddruk, bene wat nie meer lekker loop nie.”

Net nou die dag loop hy ‘n oud-kolonel by die Eugene Marais-hospitaal raak. “Hi, Karel. Jy is mos Karel, né?”

Suiker moes twee keer kyk. Hy het skoon vergeet hy is eintlik Karel Johannes gedoop.

En die twee raak aan die kuier – sommer daar in die hospitaal se koffiekroeg.

“Sy vrou het my later die aand gebel. Hy het ‘n hartaanval in die kombuis gekry en is sommer net dood.”

Karel wat in sy jeug Suiker geword het, omdat hy so met die rugbybal opgesuiker het om ‘n drie te druk.

Hy het op 16-jarige ouderdom by die polisie aangesluit. Later sy matriek behaal en ‘n diploma in polisiekunde verwerf en in 1980 word hy aangestel as bevelvoerder van Pretoria se moord- en roofeenheid.

Die polisie se brandewyn-en-coke-eenheid waar uitgesoekte manne gewerk het. Die room van die room. “My manne was die beste. Baie van hulle het die polisie verlaat en is vandag advokate. Slim manne.”

Sy Engels het nooit lekker om sy boerelippe gevou nie. Sy oud-kollega generaal-majoor Bushie Engelbrecht onthou: “Ons moes in die laat 80s ‘n wenk oor ‘n swart pastoor se vermeende kommunistiese bedrywighede oopvlek. Suiker het ‘n foto van die pastoor en vriende, wat op ‘n tafel gestaan het, opgetel. Sy arms was om ‘n wit vrou. Suiker vra toe, in wat hy gedink het sy beste Engels was: “where is your frauw…”

“Dié Bushie,” skud hy maar net sy kop, “ek wou hom daardie dag aanrand. Hy het vir my gelag. Gelukkig kan ek nou behoorlik Engels praat.”

Hy het nooit, soos baie polisiemanne, sy spanning tot onder in die bodem van die drankbottel verdrink nie. Hy het dit deur middel van humor verwerk.

“Ek het gereeld met diere gepraat, met skape en beeste wat ons langs die pad ontmoet het.”

En dan was daar sy ‘mak opgestopte bobbejaan’ wat hom gereeld gehelp het om misdade op te los. “Ons het om sommer ou F*kk*r genoem,” gee hy ‘n aamborstige kuggie. Steek nog ‘n sigaret aan en woel hom gemakliker in sy bruin uitskopstoel. “Ek het op ‘n dag met ‘n verdagte voor my gesit wat net nie die waarheid wou vertel nie. Ek het ons tegniese span gevra om luidsprekers op te stel en ‘n mikrofoon agter die bobbejaan se oor te sit.

“Pieter Molapo, een van ons speurders, het toe agter ou bobbo gaan staan en met die verdagte in Noord-Sotho gepraat. Ek het gaan tee drink. Toe ek terugkom het die verdagte gesê: “Sjoe, die voorvadergees het gepraat. Ek sal vir morena gaan wys waar die vuurwapen is waarmee ek daardie man geskiet het.”

Saak opgelos. Nog ‘n dossier in sy rakkie. Hy het sy werk gedoen en die publiek gedien.

Na 38 jaar in die polisie, het die legendariese speurder in 1999 halt geroep; sy pet opgehang en soos vele voor hom privaat ondersoekwerk begin doen.

Toe trou hy in 2012 met Annetjie; sy eerste vrou, San, is na ‘n lang stryd teen kanker oorlede.

Annetjie wat vir sy grappies lag. Annetjie wat sy rug masseer. Annetjie wat saam met hom sy oudag tegemoet gaan.

En wat hom druk om sy boek klaar te skryf: die laaste dossiere van Suiker Britz.

En een keer ‘n maand kuier hy en ‘n groep oud-generaals saam. Drink hulle whiskey; eet hulle afval. En onthou en mymer oor al die bloed, al die moorde, en nou die land wat besig is om te brand.

– Op die Rekord gaan een keer per maand verskyn. As jy weet van iemand wat ‘n verskil in die gemeenskap maak, of weet van ‘n eksentrieke karakter, stuur jou voorstel aan yolanda@rekord.co.za

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version