Community galleriesGalleriesLocal newsNewsUpdate

Opgetoë afskeid van jong dominee

Afskeid is geneem van die geliefde vroue-dominee, Claudi le Roux.

Geliefdes het Woensdag met opgetoë erns afskeid geneem van ‘n jong vroue-dominee van Valhalla wat onlangs in ‘n fratsongeluk dood is.

“Ek dagvaar enigeen wat vandag hier ‘n hartseerfoto neem,” het haar pa gesê voor ‘n roudiens wat in die NG gemeente Kameeldrift vir Claudi le Roux gehou is.

Roelf Opperman het beklemtoon dat die diens bedoel was as ‘n viering van sy dogter se lewe.

Die 27-jarige Claudi le Roux is ernstig beseer op die Moloto-pad toe skrootmetaal van ‘n vragmotor afgeval het, deur haar windskerm gebreek het en haar teen die kop getref het. Sy is later in die Montana-hospitaal dood.

Sy was ‘n dominee van die NG kerk Valhalla en ‘n Rooihuiskraal-inwoner.

Die kerksaal vir Woensdag se diens is met verskeie pragtige geel blomme versier, haar gunstelling kleur.

Ds. Lizl-Louise Schoeman van die Valhalla NG Gemeente, wat die diens gelei het, het onder meer gepraat oor Claudi se laaste beplande preek.

“Claudi se preek op Sondag sou oor Jona gewees het, en om te besef dat al wil jy vir God verlaat, sal Hy jou nooit verlaat nie. Selfs oor die vreemde, stukkende pad loop God saam,” het Schoeman gesê.

“Claudi het altyd haarself gegee, en sy het altyd aan die groot prent gedink. Sy het vir my ook gesê: ‘My bediening is groter as net hierdie (NG Valhalla) gemeente.'”

Schoeman het ook ‘n kort boodskap van Claudi se man Ewald gelees.

“Ek (Ewald) vra dat julle wat hier sit en hartseer is om haar nalatenskap uit te leef. Gaan doen iets selfloos, en verwag niks terug nie. Staan op en gaan lewe soos Claudi.”

Ná die roudiens is geel ballonne uitgedeel. Diensgangers is gevra om ‘n persoonlike totsiens-boodskap aan Claudi te skryf, die briefie aan die ballon te heg en dit te laat gaan.

Ewald sê sy vrou het ander mense se behoeftes voor haar eie gestel en mense probeer help waar sy kon. “Sy was die beste persoon wat ek geken het,” het hy gesê.

“Ons ontvang baie ondersteuning van die mense om ons. Ons hanteer dit goed onder die omstandighede,” het Ewald gesê

Volgens Ewald het die vragmotor-bestuurder weggery sonder om te stop. Hy vermoed die bestuurder het nie eens geweet dat skrootmetaal van die vragmotor afgegly het nie.

Marlene Dekker, woordvoerder van die NG gemeente Valhalla, sê Claudi het ongelooflike wysheid gehad en oral waar sy gegaan het mense se lewens op ‘n positiewe wyse aangeraak.

“Sy het in ‘n kort tydjie ‘n geweldige impak op ons gemeente gemaak. Haar positiewe insette motiveer ons om voort te bou op die grondslag wat sy gelê het.”

Claudi het as Jeugleraar by die kerk gewerk. Sy is beskryf as ‘n “dinamiese kind van die Here”.

“Ons innige simpatie aan haar man, ouers en familie. Ons gaan haar baie mis,” het Dekker gesê.

Die berugte Moloto-pad het 80 motoriste se lewens in 2014 alleen geëis.

Die roete, wat op die oomblik teen R10-miljard opgegradeer word, word deaagliks deur sowat 50 000 motoriste gebruik. Minstens 600 busse maak ook daagliks gebruik van die roete.

In een van die ernstigste ongelukke verlede jaar, is 30 mense in November dood toe ‘n bus en ‘n vragmotor gebots het. Die aantal beserings op die pad verlede jaar staan op sowat 200.

Dié doodspad het selfs die internasionale dokumentêre rolprent “World’s Most Dangerous Roads” gehaal. Die Duitse regisseur Oliver Becker het weke afgestaan om dié pad te verfilm en met motoriste oor die gevare van die roete te gesels.

Ander lande met gevaarlike paaie wat Becker verfilm het sluit Afghanistan, Ivoorkus, Bangladesj en Bolivia in.

Vir gratis gemeenskapsnuus in jou area, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

Lees ook: Pastor killed in freak accident

Fratsongeluk laat groot leemte

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button