Vol kerk vir jongman wat selfmoord pleeg

Die roudiens vir Jacques Nel was Saterdag stampvol met vriende en familie wat hom vir oulaas kom groet het.

Familie en vriende van Jacques Nel (20), wat onlangs selfmoord gepleeg het, het Saterdag by sy roudiens hul laaste eer aan hom betoon.

Sowat 300 mense het die NG Kerk Montana se banke vol gesit toe Voortrekker-vriende van Nel sy kis by die kerk ingedra het.

Sakkie Croukamp, wat Nel deur die Voortrekkers ontmoet het, het ‘n huldeblyk gelewer: “Hierdie is hoe vriende vir Jacques beskryf: koningskind, sprankel, vriendelikste mens wat ek ken, lief vir almal wat sy pad gekruis het, smiley, sonskyn, grappies en gentleman. Ek het die voorreg gehad om sy hele gesin deur die Voortrekkers te leer ken.”

Croukamp het ook ‘n boodskap van Nel se ma, Annelize, voorgelees: “Ek wil graag die volgende deel. As gelowiges sal die Here vertroos, maar as ouer het my hele lewe gegaan saam met jou Jacque’tjie kind. Skielik is daar nie meer tyd nie. Ons troos is dat dit die Here se tyd was. Weet verseker, in ons harte sal jy bly.”

Die begrafnisbrief was vol boodskappe van sy vriende en familie. Nel se suster, Carmen, het die volgende gelees: “My boetie – Jacque’tjie. Ek gaan jou baie lekker koppies koffie vroeg soggens mis! Jou mal en simpel streke, jou rooi Audi wat ‘n Golf sticker het, met ‘n ‘blêr-box’ wat die buurt met die ‘latest rock’ verskaf! Ons gaan jou verskriklik baie mis.”

Nel het verlede Vrydag selfmoord gepleeg.

Kaptein Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Nel ‘n oud-leerling van Hoërskool Montana was en dat die saak ondersoek word.
Nel se oorskot sou veras word.

Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version