Community galleriesGalleriesLocal newsNewsUpdate

Familie groet geliefde motorfietsryer

Die motorfietsryer wat voorverlede Saterdag verongeluk het, is Woensdag ter ruste gelê.

Familie en vriende van Rudy Byleveld het Woensdag hul laaste eer aan hom betoon tydens ‘n roudiens by die Doxa Deo Moot-kampus.

‘n Groep Harley Davidson-motorfietsryers het die lykwa, ook ‘n Harley Davidson, na die diens begelei, waarna die seremonie plaasgevind het.

Rudy se twee dogters, Ruzanne Byleveld en Ruzelle Enslin, en seun Ruaan was baie emosioneel tydens die seremonie. Ruaan en Ruzelle het elk ‘n eerbetoon aan hul pa geskryf wat deur pastoor Johann Cloete voorgelees is.

“Ek gaan pa verskriklik mis en sien uit na die dag dat ek pa weer sal sien,” het Ruaan geskryf.

“Vir die wêreld was jy my pa, maar vir my was jy die wêreld,” het Ruzelle se boodskap gelees.

Ruaan, wat die bedankings moes behartig, was so emosioneel dat Ruzelle dit gedoen het.

Die begrafnisbrief het as volg gelees: “Skielik en sonder afskeid, is van ons weggeneem ons geliefde en beminde Rudy in die ouderdom van 51 jaar. Net dié wat weet, kan vertel wat beteken afskeid sonder vaarwel. Stil het hy ons verlaat sonder om ‘n woord te praat.”

Na afloop van die diens is ‘n skyfievertoning van Rudy Byleveld gewys, waarna almal na buite beweeg het om hul laaste afskeid by sy kis te neem. Sy verassing sal eersdaags plaasvind.

Byleveld het voorverlede Saterdagaand vermoedelik ‘n hartaanval gehad terwyl hy op sy geliefde Harley Davidson-motorfiets in Roseville gery het.

“Waar my pa ook al gegaan het, het mense hom geken. Hy het baie oorsee gewerk en wanneer hy teruggekom het, het hy altyd op pad huis toe eers by plekke gestop en almal gegroet wat hy geken het,” het Ruaan vroeër aan Rekord gesê.

Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Lees: Biker has heart attack while riding

Oorlede motorfietsryer ’n titaan in die gemeenskap

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button