Verligting vir die feesseisoen

Sentrum vir bejaardes ontvang hulp in moeilike tye.

Dawie en Estelle du Toit, eienaars van die Van Der Stel-restaurant in Pretoria, het saam met Ol’ Timers- en Delphiniums-motorfietsklub hulp verleen aan minderbevoorregte bejaardes in Pretoria.

Die bejaardes is almal van die Manger Marine-sorgsentrum in Van Der Hoff-weg naby Hartebeespoort. Die sorgsentrum is ’n hawe vir bejaardes sonder tuiste of wat deur hul families verwerp is.

“Hierdie mense het niks anders nie, so ons help hulle waar ons kan,” het Dawie du Toit gesê.

Die groep het komberse, klere, boeke, toiletware en kos aan die sentrum geskenk. Die donasie beoog om die mense van die sentrum oor die feesseisoen ’n bietjie verligting te gee. Op die dag het die groep ook boerewors gebraai en koeldrank uitgedeel wat Johnny’s Blue Bottle in Van Der Hoff-weg geborg het.

“Dit is wonderlik om te sien dat mense so uit hul pad gaan om ander te help,” het Sannie van Zyl, een van die inwoners van die sentrum gesê.

Kenny Blackwell, ’n ander inwoner het gesê hy is ewig dankbaar vir die geskenke. “Almal hier by Manger Marine is dankbaar vir alles wat hierdie wonderlike mense doen om ons te help.”

“Ons doen gereeld liefdadigheidswerk. Ons hande is oop vir enigiemand wat hulp nodig het,” het Henry Fryer, president van Ol’ Timers gesê.

Die sentrum huisves sowat 73 mense, maar het plek vir 80. “Omdat ons nie enige mediese personeel het wat hier bly of werk nie, moet al die mense nog selfstandig wees. As hulle enige mediese aandag nodig het, vat ons hulle na Hercules-kliniek toe,” het Jenny Grobler, leier van die sentrum gesê.

“Baie van hierdie mense was suksesvol in hulle jong dae, maar hul lewens het verkeerd uitgedraai en nou is hulle hier,” het sy gesê.

Die grond waarop Manger Marine gebou is, was eers ’n plaas, en word deur Pastoor Retha Teitgh besit. Die mense wat daar woon is almal deel van die gemeenskap en moet uithelp waar hulle kan. “Deur die week was die vrouens die skottelgoed, en naweke die mans. Deur die week werk die mans ook in die tuin en maak seker dat alles netjies is,” het Jenny gesê.

“Die mense gaan ook selde uit, want hulle voel veilig hier. Daar was in die verlede inbrake hier, waar mense ons kos kom steel het, maar ons het nou ’n nagwag.”

Die sentrum bied ’n veilige tuiste vir mense wat geen ander plek het om heen te gaan nie. Die hulpbronne is baie beperk en sal enige tipe hulp of donasies verwelkom. Om betrokke te raak by die sentrum, of om iets te skenk, skakel Jenny Grobler op 012-376-4300.

 

Vir meer nuusflitse en gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version