Community galleriesGalleriesLocal newsNewsUpdate

Roudiens vir jong ma

Die roudiens vir Suretha Vorster het Donderdagoggend in East Lynne plaasgevind.

Familie en vriende van Suretha Vorster het Donderdagoggend, tydens haar roudiens by die Hervormde Kerk in East Lynne, hul laaste eer aan haar betoon. Rekord het vroeër berig dat Vorster verlede week dood gevind is in haar ma se huis in Lindopark, skaars ‘n dag nadat sy vermoedelik te vroeg uit Steve Biko Akademiese-hospitaal ontslaan is.

Vorster was ‘n lid van die Bomb Shelter Pretoria Bikers Church en verskeie lede van die kerk het ook die diens bygewoon.

Riana van der Merwe, Vorster se jonger suster, was ontroosbaar en deel van haar boodskap in die begrafnisbrief het as volg gelees: “My sussie, jy het altyd in my geglo en my moed ingepraat as alles te veel geword het, jy het ons gesin gedra en geleef vir ons. Ek mis jou vreeslik, dit voel so onwerklik dat jy weg is. Ek weet al jou pyn is nou weg en jy hou ‘n plekkie daar by jou.”

Na die diens het die Bomb Shelter Pretoria Bikers Church-lede erewag gestaan vir Vorster se gesin toe hulle uit die kerk gestap het.

“Die erewag was die idee van Juan, Suretha se seun. Dit was vir hom belangrik dat almal sy ma só moet onthou,” het Elbie Snyders, Vorster se ma, gesê.

Snyders het vroeër die week die volgende boodskap op haar Facebook-profiel geplaas: “Vanoggend kan ek weer nie aan die gang kom nie. My hart is seer oor my kind en ek is baie bekommerd oor my kleinseun en die toekoms.”

Die Villieria-polisie is tans besig met ‘n nadoodse ondersoek, nadat hulle verklaar het dat haar dood as gevolg van onnatuurlike oorsake was.

Die familie sal ‘n privaat verassing hou wanneer die nadoodse ondersoek afgehandel is.

Vir meer plaaslike en internasionale nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.

Lees ook: Familie in rou na jong ma skielik sterf

Roudiens vir jong vrou wat skielik sterf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button