Loslitdag vol pret en plesier

Die kinders van 'n plaaslike versorgingsentrum is bederf gedurende loslitdag.

Botha Rekenmeesters het Vrydagoggend hul jaarlikse loslitdag saam met die kinders van Uitkoms-versorgingsentrum gevier.

Die dag is by Monkey Tricks Party Venue in Montana gehou, waar die kinders vermaak is met ‘n poppekas, go-carts, springkastele en ritte saam met die Sinoville-polisie en die brandweer.

Elke kind het ‘n worsbroodjie en ‘n geskenkpakkie gekry, geborg deur die gemeenskap.

Uitkoms-versorgingsentrum is ‘n welsynsorganisasie vir verstandelik-gestremde jongmense wat nie meer skoolpligtig is nie.

Die sentrum maak staat op die geldelike ondersteuning van ouers, individuele donateurs, skole, besighede en banke.

JP Botha, die eienaar van Botha Rekenmeesters, sê hierdie loslitdag saam met die kinders het ‘n tradisie geword die afgelope 10 jaar.

“Baie keer dink ons dit gaan sleg met ons, maar hierdie kinders kla nooit. As ‘n mens hulle vra sê hulle dit gaan goed. Dit is vir my ‘n inspirasie om te sien dat hulle soveel doen met hul beperkte talente en dit is wonderlik om te sien hoe opgewonde hulle is oor die aktiwiteite en die dag.”

Nog ‘n ondersteuner was Gerhard Duvenhage, woordvoerder van Sinoville se gemeenskapsforum.

“Ons is baie dankbaar dat ons kan deel wees van dié jaar se loslitdag. Die gemeenskap is ons passie en ons sal graag weer wil deelwees van van toekomstige geleenthede.”

Sinoville se polisiewoordvoerder, Mirna von Benecke, was ook daar.

“Baie mense dink die polisie is net daar om skelms te vang, maar ons is ook hier vir ons gemeenskap, maak nie saak op watter vlak nie. Ons wil met ons mense kommunikeer en hulle ondersteun, of dit nou op ‘n opvoedkundige, sosiale of professionele vlak is.”

Die dag is moontlik gemaak deur verskeie plaaslike instansies. Daar was ook ‘n internasionale borg wat kontant uit Engeland gestuur het.

Vir meer gratis gemeenskapsnuus, ‘like’ Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version