Polisie, gemeenskap werk saam om misdaad te fnuik

Owerhede kry wapens en inbraaktoerusting tydens opruimingsaksie.

Moot-owerhede het wéér bewys dat samewerking goeie vrugte oplewer.

Dit kom nadat die Villieria-polisie, Secure24, Kilnerparksekuriteit en verskeie inwoners verlede Woensdagoggend die spruit in Moregloed opgeruim het.

Adjudant-offisier Eliza Grobler van die Villieria-polisiestasie het haar dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul positiewe bydra met die opruimingsaksie.

“Ons het verskeie sluipslapers gevra om die gebied te verlaat omdat baie van hulle met ongeruimdhede besig is,” het Grobler gesê.

Die Villieria-polisie poog om elke drie maande die spruite in die omgewing op te ruim. Hulle fokus tans op spruite wes van Codonialaan.

“Ons vorige opruimingsaksie het goeie vrugte opgelewer. Ons volgende projek is om die proefplaas in Soutpansbergweg aan te pak, maar ons het nog nie op ’n datum besluit nie,” het Grobler gesê.

Johnny Badenhorst van Secure24 was opgewonde om van hul nuwe lede tydens die opruiming in te span.

“Sowat tien van ons nuwe lede het met die opruiming gehelp. Ons is dankbaar vir hul bystand,” het Badenhorst gesê.

Die owerhede het ook wapens en inbraaktoerusting tydens die opruiming gevind. Die Villieria-polisie het dit verwyder. Grobler het gesê die wapens en inbraaktoerusting gaan vir vingerafdrukke ondersoek en met vorige misdaadsake vergelyk word.

Grobler maan inwoners om paraat te wees en hulself onder geen omstandighede as teikens vir misdaad bloot te stel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version