Diewe slaan toe op 10 voertuie in aftree-oord

Diewe het ’n muur by ’n aftree-oord oopgebreek en skade aan tien voertuie aangerig.

Inwoners van ’n aftree-oord in Lyttelton, Centurion is geskok en verward nadat diewe Donderdag-oggend op hul voertuie toegeslaan het.

Piet Heymans, wat in beheer van sekuriteit by die Lofdal Aftree-oord is, is briesend oor die voorval. Hy het gesê die skade is ongeveer R100 000. “Dit was regtig onnodig gewees,” het hy gesê.

Die diewe het ’n deel van ‘n muur afgebreek om toegang tot die oord te verkry. Die gat is meer as een meter hoog en net onder die elektriese heining. Die gat is dieselfde dag herstel.

Volgens Heymans het die voorval tussen 01:00 en 06:00 gebeur.

Daar is wooneenhede naby die muur, maar niemand het wakker geword nie.

Rosa Nel het dit eerste opgemerk toe sy kwart-oor-ses werk toe vertrek het. Sy het in haar voertuig geklim en ’n gedeelte van haar paneel op die vloer aan die bestuurderkant gevind.

“Ek het dadelik geweet iets is verkeerd. Toe sien ek my radio is weg en die passasiersdeur is nie gesluit nie,” het Nel gesê.

Sy het haar buurman, wat ook oppad werk toe was, gestop en hom daarvan vertel.

Hulle het die ander voertuie in die parkeergebied geïnspekteer en gesien sommige voertuie se venters is uitgebreek en motorradio’s is gesteel. Die diewe het ook GPS-stelsels en hardeware gesteel.

Daar is by tien van die 24 voertuie in die parkeerterrein ingebreek.

“Ek was verskriklik ontsteld, maar gelukkig was daar nie baie skade aan my kar nie,” het Nel gesê.

Martie Olivier se voertuie is beskadig nadat die diewe die venster van haar voertuig uitgeslaan het. “Ek was verstom toe ek die nuus hoor,” het sy gesê. “Dit is so onnodig en het groot ongerief en skade vir almal veroorsaak.”

Heymans het Maandagmiddag opgemerk dat daar ’n graffiti-teken op ’n muur aan die oorkant van die oord aangebring is.

“Ek voel sedert Maandag ongemaklik oor dié teken, veral nadat ek verlede week in Rekord gelees het van die tekens wat kriminele gebruik om teikens te merk,” het Heymans gesê.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Hero Gumbu het gesê die teken is eerder bedoel vir huis- en nie vir voertuigdiewe nie.

Gumbu het ook gesê die polise kon teen druktyd nog nie enige persone met die vingerafdrukke verbind nie, en dat die saak ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version