Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Pensionarisse mars

Oud spoorwegwerkers stap in protes vir beter pensioenpakette.

Sowat 80 Transnet-pensioenarisse het Donderdag na die Uniegebou gestap in protes oor ongelukkigheid weens Transnet se volgehoue weiering om oudspoorwegwerkers ’n menswaardige pensioen te gee.

Met bordjies wat lees, ‘Sies Transnet’ en ‘Gee ons geld’ het verskeie bejaardes deur die strate van Pretoria gestap om aandag oor die groot sakeonderneming se onregverdige pensioenfonds te vestig.

Die groep voormalige spoorwegwerkers het Donderdagoggend by die Pretoria-kunsmuseum vergader en na die Uniegebou gestap waar hulle ‘n proefskrif aan President Jacob Zuma oorhandig het.

Volgens adv. Anton Alberts is die doel van die protes ook om aandag te vestig op die komende klasaksie-hofgeding wat indien daar nie ’n skikking bereik kan word nie, ernstige geldelike implikasies vir Transnet se kredietwaardigheid inhou.

Na sowat 40 jaar se diens is die gemiddelde pensioen van spoorwegwerkers sowat R2 500 per maand. Volgens Alberts, met mediese aftrekkings en ander verpligte uitgawes, is daar pensioenarisse wat sowat R1 per maand uitkry soos Rekord reeds vroeër berig het.

Faan en Lettie Grové, wat die protes bygewoon het, het gesê hulle wil net hê regverdigheid moet geskied.

“Ons vra nie gunste en gawes nie. Ons vra wat na ons toe moet kom. Ek het 36 jaar by die sakeonderneming gewerk en ek sukkel om mediese uitgawes te bekostig, wat veral op ons ouderdom noodsaaklik is,” het Faan gesê.

Hy het ook gesê dit is vernederend om by jou eie kinders hoef bakhand te staan.

Ingrid Fisher, ook ‘n voormalige werker by Transnet, het gesê met ‘n 2% jaarlikse styging is dit onmoontlik vir bejaardes om geldelik by te bly.

“Baie pensioenarisse oor 80 jaar oud kan nie ‘n mediese fonds en benodigdhede soos rolstoelle, kunstande of looprame bekostig nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat daar selfs pensioenarisse is wat nie geld vir kos elke maand het nie.

Flip Marais het ook ontstoke gesê dat die inflasiekoers styging ver hoër is as die 2% jaarlikse styging wat deur Transnet aangebied word.

Volgens Alberts sal die hofsaak wat beter geldelike pakkette vir sowat 70 000 pensioen-benadeelde spoorwegwerkers beding, eersdaags in Pretoria se Hooggeregshof aangehoor word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button