Innibos 2015: Huisgenoot Afskopkonsert lok duisende (video en foto’s)

Onder 'n sielsaangrypende volmaan het duisende feesgangers gisteraand na die Huisgenoot Afskopkonsert gestroom.

Onder ‘n sielsaangrypende volmaan het duisende feesgangers gisteraand na die Huisgenoot Afskopkonsert gestroom.
Elke liewe feesganger se hart het vuurwarm geklop tydens ‘n skyfievertoning met beelde van die ware skoonheid van ons land. Met die volkslied in die agtergrond hoorbaar, was daar geen tekort aan hoendervleis nie.
Om mee af te skop het die kaal bolyf drummers, 1st Project die skoner geslag se harte laat bollemakiesie slaan. Bekendes soos Bobby van Jaarsveld, Dewald Wasserfall, Adam, Joshua na die Reën, Die Heuwels Fantasties, Jak de Priester, Elvis se Seun, Manie Jackson en Ghapi het ook die vroue se knieë lam gemaak. Vir die manne was daar darem ook iets – die beeldskone Tracey de Lange wat as MC van Bravo! bekend is – was as’t ware ‘n roos tussen al die dorings.
Met die litte nou goed los, was Adam aan die beurt. Die groep se nuwe snit, “Goud” het omtrent die gehoor aan die gang gekry en die voete laat jeuk. Ter afsluiting het “Oorlog vir jou maak” die standaard uiters hoog gestel. Manie het daarna diegene wat snags alleen moet lê en die winter trotseer, met sy diep woorde toegevou.
Met sy unieke styl en algehele perfeksionisme, het Joshua na die Reën weereens die standaard na die volgende vlak geneem. Sy weergawe van “Voshaarnooi” het die spyker op die kop geslaan en in die proses ‘n hele paar harte gesmelt. Indien enigiemand onseker oor sy identiteit was, het sy finale snit, “Lig op die horison” beslis die geheue verfris.
Sy breë musiekkennis is bevestig deur ‘n jazz-treffer wat verwagtinge oortref het. Daar is min mense wat so gemaklik soos Joe Foster agter ‘n klavier kan inskuif en binne sekondes duisende aanhangers kan meevoer.
Elvis se Seun het net weer bewys dat daar nog groot dinge vir Afrikaanse musiek voorlê. ‘n Ou bekende in die Afrikaanse musiekbedryf is Jak de Priester. Hy het weer bewys dat hy uit en uit ‘n gesinsman is en dat hy net weet hóé om die
lagspiere te prikkel.
Hy het onder andere ‘n liedjie gesing wat hy vir sy seun se nooi geskryf het, en dit opgevolg met een oor sy dogter. Daarin het hy dit duidelik gemaak dat jy nie met haar lol nie, want dalk word jy net ontman. Maar so vermaaklik as wat hy ook al kan wees, net so intiem kan hy ook raak. Sy snit, “Sally Williams Nougat” het die trane maar vlak laat lê by die feesgangers.
SA se bekendste boy band, NRG gevolg deur ‘n kragtoer deur Ghapi het die gehoor weer behoorlik nuwe spoed gegee. “Ek wil maar net vir die vroue sê dat ons partykeer nie saam met hulle kan leef nie, maar ook nie eintlik sonder hulle nie,” het Ghapi genoem so tussendeur sy ontploffende dromvertoning wat talle ge-Ghapify het.
Hierna het die kwik behoorlik begin styg. ‘n Sogenaamde colab deur onder meer Jak, Joe en NRG het die harte van vooraf vernuwe. Teen dié tyd was die ys behoorlik gebreek, maar iets wat effe gesukkel het om te breek, was die glaskas waarin Dewald sy verskyning gemaak het. Sy plan was om skielik die glas te breek en dan uit te spring, maar hy het eers met die tweede probeerslag daarin geslaag. En asof dit nie genoeg was nie, het hy byna neergeslaan. Nietemin het hy steeds die gehoor in verwondering gelaat.

Sien ook: https://lowvelder.co.za/279111/video-die-val-van-wasserfall-innibos-2015/

“Innibos dink ook aan alles,” het SA se lieflingkunstenaar, Bobby die organiseerders gekomplimenteer, veral omdat selfs die dowes vanjaar die fees kan geniet – “‘n Ware fees met hart”.
Na verskeie gunstelinge soos “‘n Vrou wil dit hoor”, het aanhangers soos gewoonlik hulle harte totaal en al op hom verloor.
Vir talle was hierdie die einde van ‘n uitstekende konsert, maar heelwat indie-rockaanhangers het gebly om Die Heuwels Fantasties te sien en sodoende op te warm vir die biertent, of die aand op ‘n baie, baie hoë noot af te sluit.

Kyk hier na nog foto’s van die Huisgenoot Afksopkonsert

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version