Montana engele bring hoop

Polisie, vliegskool en inwoners reik uit na die liefdadigheidsorganisasie Rock of Hope.

’n Man van Rock of Hope in Montana het sy hande vol met vier babas in doeke by dié plek van veiligheid vir weeskinders.

Tog kry elkeen hul beurt by “Pappa” terwyl Bettie Mosombuka bedrywig is in die kombuis met middagete voor “Ma” Mientjie saam met die ander kinders tuiskom.

“Ons het dalk ’n bietjie meer kinders as jou normale huisgesin,” sê Wouter Prozesky, terwyl hy ’n wind uitvryf en baba se mondhoeke skoonvee.

“Maar siende dat ons soms tot ses babas in die huis het, is dit ’n heel normale dag.”

Wouter en sy vrou Mientjie het in 2011 Rock of Hope van stapel gestuur.

Dié geregistreerde liefdadigheidsorganisasie word vanuit hulle huis bedryf.

Saam met die Prozeky’s bly hul biologiese dogter; babas (vanaf ses weke oud), kleuters en tieners van pleegsorghuise en plekke van veiligheid.

LEES OOK: Huisgras bring hoop vir ’n toekoms

“Ons het ’n totaal van 70 kinders hier gehuisves vandat ons begin het in 2011,” sê Wouter.

Op ’n muur in die gesin se huis hang al die fotos van die kinders wat hiér ’n tydelike huis gehad het.

“Op die oomblik bly daar tien kinders by ons.”

Wouter sê hy en Mientjie wou nog altyd baie kinders gehad het.

“’n Amerikaanse profeet het in Februarie 2011 my vrou genader by ons klein kerkie in Centurion. Hy het haar in die oë gekyk en gesê: ‘Ek sien jou in ’n minibus vol kinders. Hulle is nie jou eie nie, maar jy sal vir hulle lief wees soos jou eie.’”

Hierdie profesie het waar geword na die egpaar aangesluit het by die Tshwane plek van veiligheid-vereniging, en op 26 April 2011 hul eerste kind ’n tydelike huis kon gee.

Verlede jaar kon die Prozeky’s ook ’n minibus aanskaf om die kinders te vervoer.

Wouter sê hulle doen alles soos ’n gewone huisgesin.

“Ons vat die kinders skool toe, na naskoolse sportaktiwiteite, dokters-afsprake en ander sosiale geleenthede.”

Alhoewel die egpaar ook baie hartseer deel wanneer die kinders hul huis moet verlaat vir ’n ander permanente tuiste, sê hulle bring dit blydskap om te weet dat hul ’n verskil, hoe ookal kort, kon maak in dié kind se lewe.

LEES OOK: Nuwe rugby-instituut en -akademie bring hoop vir baie

Soos enige liefdadigheidsorganisasie is Rock of Hope ook meestal afhanklik van donasies van die publiek.

Wouter sê hulle is gelukkig om ’n hele klomp “engele” te ken wat altyd bereid is om uit te reik en te help waar hul kan.

Verlede week het Sinoville-polisie en Weik 50-raadslid Lenise Breytenbach die Prozeky-gesin besoek.

“Wonderboom Nationale Lughawe saam met BlueChip vliegskool het onlangs ’n bydrae gemaak aan Rock of Hope,” sê Breytenbach.

“Wouter en Mientjie lewer ’n noodsaaklike diens in ons gemeenskap en doen dit met soveel deernis en liefde. Dis ’n voorreg om ook weer te kan gee aan hulle.”

Breytenbach sê die Prozeky’s het ook weer in hulle beurt, ou baba- en kleuterklere geskenk.

“Met die hulp van Christina Moeia, is al hierdie klere gewas en gestryk. Ons kan dit nou weer as skenkings gee aan ander behoeftige gesinne en nuwe ma’s.”

Sinoville-polisie het ’n bydrae gemaak aan Rock of Hope, met ’n sak vol nuwe speelgoed.

Adjudant-offisier Johan van Dyk (ook bekend as Sinoville se geliefde “Chopper Cop”) sê die speelgoed is onlangs aan die polisie se krisissentrum geskenk.

“Een van ons inwoners, Jumathea Ferreira, het die gebreide poppies en beertjies self gemaak,” sê Van Dyk.

“Namens die Sinoville-polisie wil ek haar graag bedank en ook diegene wat na ons liefdadigheidsorganisasies soos Rock of Hope uitreik, en hulle in staat stel om ’n verskil te maak in die gemeenskap.”

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version