VIDEO: Pta-Noord motorwag word gepamperlang

'n Motorwag in die noorde van Pretoria het Woensdag 'n wonderlike ervaring gehad toe 'n groep goedhartige mense haar bederf het.

’n Hawelose vrou van Pretoria-Noord is Woensdag vir ’n dag gepamperlang toe ’n groep barmhartige Samaritane besluit het om haar te help.

Annatjie of “Anna” Labuschagne is ’n 36-jarige motorwag in die noorde van Pretoria.

Anna se dag van bederf het al sewe maande terug begin toe goedhartige Ruth Jacobs en haar man Willem Cenci goedgedink het om ’n Facebook-groep met die naam “People do care/Mense gee om” te stig.

“Die doel van ons Facebook-groep is om mense wat op straat woon te help. Ek en my man werk albei voltyds en as ons in die middae by die huis kom, begin my man kook. Al die bestanddele waarmee hy kook, kry ons van mense wat oortollige kos skenk,” verduidelik Jacobs.

“Wanneer die kos klaar is, laai ons albei 100l-potte in my motor, ry rond en deel ’n bord gesonde, gekookte kos aan die haweloses uit.”

LEES OOK: Noord gee om vir haweloses

Jacobs sê dat Anna al ’n geruime tyd van tandpyn kla.

Sy is verskriklik skaam en was nie bereid om alleen na die kliniek te gaan vir mediese hulp nie.

“Dr Johan Klopper, ’n tandarts in Rietfontein het my geskakel om Anna te help, om haar te sien vir ’n konsultasie en haar tandpyn probeer verlig. Alles gratis.”

Anna het ’n reeks skoonheidsbehandelings gekry van Ultra Style Studio wat ’n hare-, nael- en voetsorgafspraak ingesluit het.

Anna sê dat sy die bederf vreeslik waardeer en dat sy soos ’n regte vrou voel.

“Ek is omtrent op my senuwees, maar ek geniet dit vreeslik baie. Hierdie is wonderlike mense wat my gehelp het vandag,” sê sy.

LEES OOK: Pretoria-Noord gee nog steeds om

Sy het ook die nuwe klere wat sy ontvang het, beskryf as die grootste geskenk wat sy in ’n lang tyd ontvang het.

Na haar pamperlangsessie, is Anna vergesel na die Hunters Grill Restaurant and Pub waar hulle vir haar ’n burger, skyfies en koolslaai geborg het.

Jabobs sê sy is dankbaar vir al haar borge en voeg by dat ongeveer 30 mense wat hulle op straat gevoer het, al werk en verblyf gekry het en nie meer haweloos is nie.

“Ons voer ongeveer 150 na 200 mense elke aand, ons het ongeveer 20 stoppe wat ons maak, dan het ons ’n redelike deel van die noorde gedek,” sê sy.

“Ons sou dit nie kon doen sonder mense wat elke dag vir ons kos skenk, of wat ons help met vervoer nie.”

Indien jy by “People do care/Mense gee om” wil betrokke raak, kontak Ruth Jacobs by 073-196-2956.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version