39ste Wally weer ’n reuse sukses

Centurion se strate het vroegoggend op Werkersdag gewemel van deelnemers aan die jaarlikse Wally Hayward marathon.

Die Wally Hayward marathon, een van die grootste padwedlope wat jaarliks in Pretoria plaasvind, is op Vrydag 1 Mei weer met groot sukses aangebied.

Die wedloop word jaarliks deur die Alpha Atletiekklub van Centurion aangebied.

Duisende atlete vanoor ’n groot deel van Suid-Afrika het opgedaag vir dié prestige-ryke marathon, wat ook die laaste kans is vir atlete in Gauteng om vir die Comrades marathon te kwalifiseer.

Atlete het ‘n keuse gehad van vier verskillende wedlope om aan deel te neem. Die ernstige atlete kon aan die standaard marathon wan 42,2km deelneem, terwyl daar ook ’n halfmarathon (21,1km) was vir die langasems wat net goeie kilometers met hul drafskoene agter die rug wou kry ter voorbereiding vir die Comrades. Dan was daar ook ’n 10km padwedloop en ’n 5km pretdraf vir diegene wat die vakansiedag met ’n goeie oefensessie wou begin.

Die mans-afdeling van die standaard marathon is gewen deur Sam Bolo van Bedfordview. Sy wentyd was 2uur, 21minute en 30sekondes. Yolandi Maclen van Born-to-Run was die eerste vrou oor die wenstreep ná 42.2km.

’n Groot deel van die opbrengs van vanjaar se wedloop sal aan verskillende liefdadigheidsorganisasies geskenk word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version