Storielees vir Vadersdag

Pa's het onlangs geleentheid gekry om vir hul kinders boek te lees by 'n winkelsentrum in die noorde van Pretoria.

Pa’s regoor Pretoria het Saterdag die geleentheid gehad om vir hul kinders boeke te lees.

Die SAVF FAMNET, met die samewerking van ‘n netwerk van organisasies, het ‘n dag vol pret by by Kolonnade Retailpark gereël, met bekende skrywers wat vir kinders gelees het, stalletjies waar kinderboeke te koop was, die Pretoriaskool vir Serebraal Gestremdes se skoolkoor en nog vele meer.

Die program, wat deel vorm van die Front Page Father Mediaveldtog, het vir bekendes soos Jacques Blignaut (7de Laan se Vince) en Mr. SA, John Owens, ook by die geleentheid verwelkom, waar hulle self vir hul dogters gelees het.

“Ek en my vrou het twee wondelrike dogters en ons het gesien hoe hulle ontwikkeling en ons betrokkenheid in hul lewens deur die lees van stories beïnvloed is,” het Blignaut gesê.

Skrywers Elizabeth Pienaar en Derick van der Walt, bekend vir sy boek Lien se Langstaan skoene, het beklemtoon hoe belangrik lees vir ons land se kinders is.

“Kinders lees nie meer so baie soos voorheen nie en besef nie dat lees ‘n mens vryheid gee nie. In ‘n sekere mate help e­boeke, want veral seuns is mal oor gadgets, maar lees is ‘n individuele ding en moet mens self plesier verskaf,” het Pienaar gesê.

Van der Walt het verduidelik dat dit baie belangrik is vir ouers om vir hul kinders te lees.

“As ‘n kind se pa vir hom lees, is dit ‘n lekker, positiewe ervaring. Ek en my familie is tot vandag toe baie lief vir lees en dit is omdat ons pa vir ons gelees het, van kleintyds af,” het Van der Walt gesê.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version