Local newsNews

Pretoria-skole skop stof in die oë van debatteerders en redenaars

Pretoria-skole se flinkdinkers en raakpraters het onlangs in drie kompetisies hul opponente in die stof laat byt.

Pretoria-skole het ’n wye verskeidenheid wenners opgelewer in twee debatkompetisies en een redenaarskompetisie wat onlangs aangebied is.

Drie skole het as wenners uit die stryd getree met die Gautengse Afrikaanse kultuurvereniging, Con Spirito, se debatkompetisie.

Die organisasie bied ook gereeld Eisteddfods aan en behoort aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings.

Vanjaar se kompetisie-eindstryd is op 19 September in Durbanville in die Wes-Kaap aangebied.

As trotse debatteerders is Emmi-Faye Butler en Levi Lombard van Laerskool Anton van Wouw in Pretoria as die Con Spirito-raakpraters aangewys.

By die Hoërskool Juniors se afdeling het Die Hoërskool Menlopark skoonskip gemaak met Luané Erasmus en Kayden Venter wat die woord tydens die kompetisie gevoer het.

Die Hoërskool Seniors-kategorie se topdebatspan, Christiaan Burger en Wihan Koster van Afrikaanse Hoër Seunskool, het met die louere in dié kategorie weggestap.

Con Spirito se debatkompetisie is vanjaar vir die vierde keer as ’n nasionale kompetisie aangebied.

Die tweede debatgeleentheid waar Pretoria-skole uitgeblink het is die AfriForum Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie waarvan die nasionale finale dag vir hoërskoolleerders op 5 Oktober op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind het.

Luane Erasmus, Kayden Venter, Wihan Koster en Christiaan Burger

Die doel van hierdie onvoorbereide debatkompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder.

Altesaam 36 hoërskoolleerders van tien hoërskole in Suid-Afrika het in hul onderskeie spanne aan die finaal van die kompetisie deelgeneem.

Die skole wat aan die junior kategorie deelgeneem het, is Merensky Landbou Akademie (Limpopo), Hoërskool Framesby (Oos-Kaap), Hoërskool Nelspruit (Mpumalanga), Hoërskool Durbanville (Wes-Kaap), Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria – AHMP (Gauteng) en Hoërskool Jim Fouché (Vrystaat).

Ná ’n naelbyt finale debat oor die voordele en nadele van groepswerk, het AHMP se Kiki Bulter, Lientjie Steyn en Anabelle Swanepoel koning gekraai.

“Dit is vir ons skool ’n absolute voorreg om elke jaar aan Dink of Sink te kan deelneem. Die kompetisie word puik georganiseer en ons ervaar die moeite en tyd wat hierin geploeg word. Boonop is dit hope pret vir die leerders,” sê Lise-Mari Roodt, debatorganiseerder van AHMP.

Chantel Joubert en Zane Alberts van Laerskool Stephanus Roos in Sinoville.

In die redenaarskompetisie van die Oppie Tong Af-platform, het Zané Alberts, ’n graad 7-leerling aan Laerskool Stephanus Roos in Sinoville en ’n graad 2-leerling in dieselfde skool, Chantel Joubert, met die louere weggestap.

Die Oppie Tong Af/ On The Tip Of Your Tongue nasionale finaal is vanaf 3-5 Oktober by Laerskool Rooihuiskraal in Centurion aangebied.

Oppie Tong Af is ’n tweetalige platform wat openbare optrede en redevoering bevorder.

Alberts het die die eerste plek in haar kategorie behaal wat beteken sy is nommer 1 in die land in hierdie redenaarskompetisie.

Joubert het ’n eerste plek behaal met haar Engelse toespraak in die Vermaaklikheidsafdeling.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button