Local newsNews

Tshwane se elektrisiteitskuld beland hul in die hof

Tshwane se meer as R6-miljard skuld aan Eskom word in laat-November in die Gauteng Noord Hooggeregshof verhoor.

Die Tshwane metro stamp steeds koppe met kragreus Eskom oor ’n verbysterende R6.6-miljard skuld.

Volgens die metro, skuld hulle Eskom R6.6-miljard op 31 Augustus waarvan R4.5-miljard historiese skuld is en R2.1-miljard huidge skuld behels, volgens die Augustus-faktuur.

Hierdie saak tussen Tshwane en Eskom draai nou in die hof en die volgende hofverhoor is in laat-November.

Eskom-woordvoerder Amanda Qithi sê die rekening vir September is nog nie teen die sperdatum afbetaal nie en dat die stad onreëlmatige betalings maak.

Alhoewel die metro met finansiële probleme sit, het dit sy fakture vir die winter ten volle afbetaal wanneer Eskom teen ’n aansienlik hoë koers as in ander seisoene faktureer.

Qithi sê Tshwane het opgehoopte agterstallige skuld van R5.2-miljard vanaf einde Augustus, en die twee partye is tans in ‘n hofgeding betrokke .

“Die kragreus kon nie ’n betalingsooreenkoms met Tshwane bereik nie,” sê sy.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die hofsaak het op 17 Julie vanjaar in die Gauteng Noord Hooggeregshof begin.

“Weens die lang tydperk wat toegewys is vir ’n volle verhoor, het die voorsittende regter vir uitstel gevra tot Oktober.”

Hy sê egter dat die versoek van die hooggeregshof se Adjunkregterpresident, Eskom se prokureurs en die stad opdrag gegee het om vir ’n volle verhoor voor te berei wat vir 26-27 November vasgestel is.

Mashigo sê die metro is daartoe verbind om sy finansiële verpligtingte na te kom en ’n goeie reputasie by Eskom te handhaaf.

“Die Tshwane metro beplan om aan die hooggeregshof se uitspraak te voldoen, wat na afloop van die verhoor afgekondig sal word,” sê hy.

Mashigo voeg by dat die metro sy bes doen om aan ’n Eskom-eis te voldoen dat die stad sy lopende rekening ten volle en betyds moet betaal.

“Dus, Tshwane het Eskom se Mei- en Junie-fakture ten volle betaal en slegs R521-miljoen van die Julie-faktuur (wat R.2-miljard beloop) is nog uitstaande.”

Ten spyte van die stad se vorige vordering met finansiële terugbetaling, het politieke onrus die werk in die wiele gery, wat die vorige pogings om Tshwane se finansiële posisie te herstel, in gevaar gestel.

Die onlangse ontslag van DA-burgemeester Cilliers Brink, tesame met die ongeouditeerde finansiële state – wat dui op ’n flou sprankie hoop – toon dat die toekoms van die stad se ekonomiese rehabilitasie ’n onsekere reis bly.

Brink is deur ’n derde mosie van wantroue op 26 September uitgestem, waarvan die twee vorige mosies in Julie en Augustus om prosedurele en regsredes voor stemming kon plaasvind, onttrek.

ANC-raadslid Frans Boshielo het die mees onlangse mosie ingestel weens die metro se skuld van R6-miljard aan Eskom en R15-miljoen aan Rand Water verskuldig; vertraagde pensioenfondsbetalings; onnodige uitgawes op nuwe aanstellings; en ’n laat indiening van die vyf-kwartaallikse ouditprestasiekomiteeverslae.

Die vorige burgemeesterskomiteelid van Finansies, Jacqui Uys, het in September gesê dat die 2023/24-finansiële jaar wat op 30 Junie geëindig het, het volgens die ongeouditeerde finansiële state ’n beduidende verbetering getoon.

Brink het gesê dat op die huidige trant, die metro “kontant-positief” sal wees aan die einde van die volgende finansiële jaar. Dit, volgens hom, sal die stad in staat stel om sy skuld aan Eskom op die mediumtermyn af te betaal, en die stad se bankvermoë en vermoë om diensinfrastruktuur te finansier, te herstel.

In April vanjaar het die stad ’n betalingsplan by Eskom ingedien en alhoewel dit nie goedgekeur is nie, sê die metro dit het daarby gehou en sy betalingsverpligtinge oorskry.

Mashigo voeg by dat Tshwane Eskom se Mei- en Junie-fakture ten volle afbetaal is en sal poog om al sy toekomstige lopende rekeningfakture ten volle te betaal terwyl dit aan die ander kant voortgaan om die opgehoopte agterstallige skulde te vereffen.

Volgens Mashigo, beloop die elektrisiteitsrekening vir die afgelope vier wintermaande R7.2-miljard.

“R1-miljard was vir Mei, R1.9-miljard het opgehoop in Junie, toe R2.2-miljard in Julie, en R2.1-miljard in Augustus met ten minste R4.6-miljard wat reeds betaal is aan Eskom in daardie vier maande.”

Volgens hom, het die stad deurlopende gesprekkemet Eskom gehad oor fakture maar hierdie verbintenisse het tot ’n doodloopstraat gelei. Dus is die saak nou in die hof vir arbritrasie.

Hy sê die stad het ’n Finansiële Herstelplan geloods om sy finansiële status in die kort- tot mediumtermyn te verbeter.

“Die plan beoog om die hele waardeketting van Tshwane se munisipale bedrywighede te ondersoek en sy hoofdoel is om te verseker dat Tshwaner alle inkomste wat aan die metro verskuldig is, invorder. Dit sluit in om nuwe bronne van inkomste te ondersoek, die bestuur van uitgawes om binne toelaatbare en beskikbare perke te wees, en om te verseker dat die metro se diensleweringsmodel geïntegreerd, effektief en doeltreffend is.”

Hy sê die plan is nie ’n alleenstaande element nie maar vorm die kern van die metro se besigheid in elke departement, vorm voorts ook deel van die begrotingsproses en neem kennis van alle ander maatreëls wat ingestel is om finansieële herstel te verseker.

“Die plan vorm deel van die nasionale en provinsiale sfere van die regering se ondersteuningstrategie om te verseker dat die stad finansieel herstel, wat sal lei tot ’n effektiewe en doeltreffende munisipaliteit wat finansieel stabiel is en in staat is om dienste aan die gemeenskap op ’n volhoubare basis te lewer.”

Die metro het voorheen gesê dat die bestuur van uitgawes afwaarts en die inkomste opwaarts deel van die plan was.

Wanbetalende kliënte word opgevolg en daarom het die kollektiewe skuld by die top 500 hoogste debiteure van R5.3-miljard in April na R4.4-miljard teen Augustus geval.

Veral opvallend is die vermindering van besigheidskuld, waar 303 besigheidsrekeninge se skuld van R3.3-miljard tot gemiddeld R2.5-miljard afgeneem het.

Mashigo sê daar moet daarop gelet word dat Tshwane Ya Tima, ’n inkomsteinvorderingsveldtog wat wanbetalende kliënte van die toevoernetwerk ontkoppel, een van die metro se kredietbeheermaatreëls is.

“Dit beteken dat die invorderingsveldtog is een van die kredietbeheer veldtogte wat die stad ingestel het om die nodige inkomste te vermeerder sodat die munisipaliteit aan sy plaaslike regeringsmandaat kan voldoen om kwaliteitdienste aan alle inwoners te lewer.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Reitumetse Mahope

Reitumetse Mahope is a seasoned journalist overseeing digital content at Rekord. With close to a decade of experience in field reporting, Mahope captures compelling stories that inform, educate, and inspire. His expertise spans from hard news to heartwarming features, making him a valuable asset to the team.
Back to top button