Local newsNews

Bobaas-entrepreneur: Nou gaan ons springmielies braai!

Entrepreneus is onlangs gemeet aan die voorleggings wat hulle gemaak het oor hul sakeplanne, produkte reeds op die mark en hul planne vorentoe.

Awie Krog, stigter en eienaar van Craft Braai, is as Entrepreneur van die Jaar vir 2024 deur AfriForum in Pretoria gekroon.

Sy sakeplan rondom sy unieke braaisakkie, wat deur hom ontwerp is tydens Covid-19-tydperk en plaaslik vervaardig word, het die verbeelding van die beoordelaars Lizette Volkwyn en Charl Oberholzer aangegryp.

AfriForum Sakenetwerk het van 1 tot 3 Oktober die kompetisie aangebied.

Awie Krog, die wenner.

Benoni-gebaseerde Krog noem Pretoria sy tweede tuiste aangesien hy en sy gesin elke naweek hul stalletjie al vir drie en ’n half jaar by Busstop 7 Ope Mark in Pretoria-oos bedryf.

Krog sê dié braaisakkie is ideaal om kleiner kosse te braai en werk veral goed vir braaibroodjies as jy nie van styftoegeknipte braaibroodjies hou nie.

“Ons lekkerste resep tuis is om die drie-kaas braaibroodjies daarin te maak, maar ook om groente soos mielies daarin te sit met net ’n blokkie botter bo-op,” vertel Krog.

Sy gunsteling is om springmielies in die sakkie op die braai te maak.

Die beoordelaars hou van sy uitgangspunt om net plaaslike produkte op ’n unieke wyse te ontwerp en om veral op te let na veiligheid rondom oopvuurkosmaak.

“Ek hou daarvan om interessante produkte te ontwerp en te vervaardig wat kliënte so ’n ‘Sjoe!’-gevoel kan gee en hulle in verwondering laat staan en dink nou maar hoekom het ek nie hieraan gedink nie?” verduidelik hy.

Awie Krog se braaisakkie.

Hy het ook punte gekry vir een van sy vernuftige uitvindings om ’n plan te maak om malvalekkers se braai veiliger te maak deur die malvabraaistokkie se punte te laat inkrul en so “ongelukkies met die kleingoed en hul maats” te vermy.

Krog het nog talle planne om vorentoe sy produkreeks uit te brei, werk te skep en die gewilde “Nou gaan ons braai!” te laat opklink.

Hy vertel dat Craft Braai te danke aan die Covid-19-tydperk ontstaan het toe afleggings aan die orde van die dag was.

“Die Here het die gelykenis van Johannes 21:6 op my hart gedruk waar Jesus vir sy dissipels gesê het om hul nette aan die anderkant van die skuit te gooi, want daar sal hulle vis uittrek. Die gelykenis was vir my in daardie uitdagende tyd uiters gepas en pas aan by die braaisakkie waarvan die bokant van net gemaak is,” verduidelik Krog.

Een van die finaliste, Danielle de Villiers, eienaar van The Fun Room, het met haar voorlegging oor haar onderneming ook die beoordelaars beïndruk.

Sy het met die Onderneming van Formaat-toekenning weggestap.

Danielle de Villiers se voorlegging het ook die beoordelaars beïndruk.

De Villiers, self ’n ma van drie, se besigheid is daarop gerig om die las op ander ouers van ’n jong kroos makliker te maak. Die binnenshuise speel- en partytjieplek in Waterkloof bied veilige klouter- en klimplek vir die kleingoed tot 12 jaar oud terwyl ouers iets te drink en te ete kan geniet.

“Die volwassenes mag saamspeel. Daar is wel ook toesig in die speelarea en ouers kan dan aanlyn werk. Ek het begin toe ek ’n mamma geword het en self ’n uiteetplek gesoek het,” vertel sy.

Die toekenning beteken vir haar baie want sy glo dis ’n beloning vir haar harde werk.

“Die deelname opsigself het vir my baie beteken want ek moes baie introspeksie gedoen het en dis altyd gesond. Ek het baie by die beoordelaars geleer,” sê sy.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê die voorleggings was vanjaar op ’n besonderse hoë standaard, daarom is daar besluit om die toekenning Netwerker van Formaat in Onderneming van Formaat te omskep.

Die ander finaliste is almal van Pretoria: Carmé Myburgh, Jolene Snyman, Marezelda Combrinck en Martie Truter.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button