Local sportSport

Superster gimnas van weleer gesels oor haar loopbaan

Terwyl Suid-Afrika sukkel om deesdae internasionaal gerekende gimnaste op te lewer, was daar ’n tyd toe dié sport ’n prominente profiel in die samelewing gehad het. Rekord het onlangs met een van die supersterre van gimnastiek se goue jare gesels oor haar loopbaan.

Lank voordat Springbokkleure slegs tot rugby beperk was, het ’n tingerige meisie, wat toé slegs 31kg geweeg het, op die ouderdom van 12 (sy het in April daardie jaar eers 13 geword), haar hoërskool loopbaan in 1983 by Hoërskool Waterkloof begin met haar eerste Springbok baadjie reeds in die kas.

Lydia Kruger (née Venter) hou trouens die rekord dat sy die jongste persoon ooit was om Springbok kleure te verwerf, nadat sy op 11-jarige ouderdom die eerste keer as gimnas dié eer te beurt geval het.

Dít het gevolg nadat sy as kleuter aan die sport begin deelneem het en as 9-jarige reeds junior Springbokkleure op die trampolien verwerf het.

Nóg Springbok baadjies sou later volg in Tuimel (1983) en Akro Ginmastiek (1986), wat haar amptelik ’n driedubbele Springbok maak. Sy het tussen 1982 en 1988 byna jaarliks oorsee getoer en verskeie keer Springbok kleure as gimnas verwerf, terwyl sy drie keer amptelik die nasionale kampioen was.

Op die kruin van haar loopbaan is daar in die media gespekuleer dat sy die eerste Suid-Afrikaner kon word om ’n perfekte ‘10’ in ’n kompetisie te verdien. Sy het baie naby daaraan gekom, veral met haar soms skouspelagtige vetonings in die vloer-item.

Die jong Lydia Venter, op die kruin van haar gimnastiekloopbaan, toe sy een van die wêreld se beste gimnaste was. Hier is sy op die balk, een van haar gunsteling items in die sport.
Foto: Verskaf

“Daardie jare moes jy internasionaal deelneem om Springbok te word, maar ons was besonder gelukkig om dit wel te kon doen,” het sy tydens ’n onlangse gesprek met Rekord verduidelik.

Gimnastiek was een van die min sportspoorte is wat regdeur die politieke boikot-jare tog daarin geslaag het om gereeld internasionaal te kompeteer, aangesien die Suid-Afrikaanse Amateur Gimnastiek-unie ten spyte van baie druk nooit deur die internasionale beheerliggaam uitgeskop is nie. Terwyl lande soos Amerika, Switserland, Italië en Oostenryk op gereelde basis gimnastiekspanne na Suid-Afrika gestuur het, het die Springbokspan in daardie tydperk ook na bestemmings soos Engeland, Duitsland en Israel getoer.

Die 1980’s was goue jare vir die sport en gimnastiek het baie blootstelling in die media gekry. Internasionale byeenkomste is gereeld regstreeks op nasionale TV uitgesaai.

In die afgelope 20 jaar sedert 2004 kon slegs vyf Suid-Afikaanse gimnaste by vier geleenthede kwalifiseer om aan die Olimpiese Spele deel te neem en nie een van hulle kon die eindrondte by dié skouspel haal nie. Dit bring mens by die vraag of Kruger goed genoeg sou wees om by die Olimpiese Spele’s van haar tyd te kon presteer? Sy was byvoorbeeld in 1984 op die kruin van haar loopbaan.

Lydia Kruger (née Venter) was groot nuus op haar dag, toe sy Suid-Afrika se top gimnas in die 1980’s was.

“Wel, ek glo ek sou verseker ’n podium kans gehad het in my twee gunsteling items – die balk en die vloer. Vir wat dit werd is, ek het die beroemde Amerikaanse gimnas, Mary-Lou Retton, in daardie tydperk in die vloer-item geklop. Sy het later in 1984 vyf medaljes by die Olimpiese Spele in Los Angeles gewen,” was Kruger se beskeie antwoord.

Retton het by die 1984-Spele onder andere die brons medalje op die vloer ingepalm, terwyl sy as algehele Olimpiese kampioen aangewys is.

Kruger is een van die mees bekroonde sportsterre in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis. Behalwe vir die dosyne medaljes en toekennings wat sy reg oor die wêreld ingepalm het, het sy in 1987 die Staatspresident-Sportmeriete toekenning van die destydse staatshoof, PW Botha, ontvang.

Kort nadat sy haar uittrede as gimnas in 1988 aangekondig het, is sy vir oulaas deur Tukkies vereer toe sy as hul Sportvrou van die Jaar aangewys is en na afloop van haar loopbaan is sy deur Gimnastiek Gauteng-Noord aangewys as dié vereniging se vrouegimnas van die 20ste eeu.

Lydia Kruger saam met haar oorlede man, Cornell, wat vroeër vanjaar aan ’n haraanval gesterf het.
Foto: Verskaf

Sy was maar 18 toe sy die sport vaarwel toegeroep het, maar volgens haar is dit nie vreemd in gimnastiek nie.

“Beserings speel ’n groot rol en die meeste top gimnaste maak in hul vroeë 20’s klaar,” het sy verduidelik.

Intussen het Kruger ’n BCom graad in Bemarking aan Tukkies verwerf en kort daarna is sy getroud met haar skoolkys, Cornell Kruger, na wie sy as “my een en enigste liefde” verwys. Hulle het saam groot sukses in die eindomsbedryf behaal. Ongelukkig het Lydia haar eggenoot vroeër vanjaar verloor toe ’n hartaanval sy lewe geëis het.

Uit die huwelik is ook twee kinders gebore. Hul oudste, Lindelie, woon deesdae in Amerika, terwyl hul seun, Ben, in Nederland gesetel is. Sy is ook reeds die trotse ouma van twee kleinkinders, met ’n derde op pad.

Hoewel sy steeds as eiendomsagent werksaam is, beplan Kruger om in die toekoms meer gereeld haar kinders oorsee te besoek.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button