Local newsNews

Stadsraad sal nuwe burgemeester binne 14 dae kies

Volgens die ANC se provinsiale sekretaris, Thembinkosi Nciza, het die DA vyf burgemeesters in die afgelope agt jaar gehad, wat almal skandelik hul amp verlaat het, insluitend burgemeesterskomitees wat verskeie kere herskommel is.

Die voormalige Tshwane burgemeester Cilliers Brink het ’n mosie van wantroue teen hom verloor na drie maande se omstrede besprekings rakende sy geskiktheid vir sy amp.

Brink het die derde mosie op 26 September in die gesig gestaar na twee vorige mosies in Julie en Augustus nie op gestem is nie as gevolg van prosedurele en wettige redes.

ANC-stadsraadslid Frans Boshielo sê die mosie is ingestel as gevolg van die metro se R6-miljard skuld aan Eskom en
R15-miljoen aan Rand Water, vertragings met pensioenfondsbetalings, onnodige uitgawes op nuwe aanstellings, en die laat inhandiging van vyf kwartaallikse ouditprestasiekomiteeverslae.

Die stad sal nadat Brink uit sy amp verwyder is, tydelik gelei word deur adjunkburgemeester, Dr. Nasiphi Moya, totdat ’n nuwe burgemeester ingestem kan word.

Speaker Mncedi Ndzwanana sê in ’n brief dat Moya die bevoegdhede en funksies van die amp van die uitvoerende burgemeester sal uitoefen.

Moya is verkies tot die pos van adjunkburgemeester op 18 Januarie vanjaar tydens ’n spesial vergadering van die stadsraad.

Woordvoerder van die Speaker se kantoor, Sthembiso Sithole, verduidelik dat die verkiesing binne 14 dae vanaf Donderdag se raadsvergadering moet plaasvind.

Tydens Donderdag se vergadering het stadsraadslede oor die mosie gedebateer voordat stemming net voor 15:00 plaasgevind het: 120 stadsraadslede het die mosie ondersteun, terwyl 87 stadsraadslede daarteen gestem het en een het hom daarvan weerhou.

Met die debat het DA en Vryheids Front Plus-stadsraadslede die werk voorgelê wat onder Brink se koalisieregering plaasgevind het sedert hy die amp van burgemeester vanaf 28 Maart, 2023 beklee het.

Stadsraadslede van ActionSA, die EFF, ANC en die PA het hul argumente voorgelê in ooreenstemming met die redes in die mosie van wantroue wat deur Boshielo voorgelê is.

Die mosie volg na weke se konflik en openbare gesprekke tussen Brink se koalisievennote voordat ActionSA die koalisie formeel op 14 September verlaat het.

Brink het Vrydag ’n inligtingsessie met die pers bygewoon saam met die voormalige burgemeestersraadslede van sy party, en die provinsiale leier van die DA, Solly Msimanga.

Msimanga sê hul sal aanhou veg vir die inwoners van Tshwane en het aangekondig dat hul Brink sal voorhou as ’n kandidaat vir herverkiesing.

“Ons is so emosioneel betrokke dat ons nie die stad sommer sal laat vaar nie,” sê hy.

Hy het beloof dat hy en sy span spesiale aandag daaraan sal gee om seker te maak dat senior bestuurders nie geviktimiseer of afgestel word nie. Hulle sal ook verseker dat die Hammanskraal-waterprojek voltooi word en dat dissiplinêre aksie geneem word teen amptenare in die geval van die Rooiwal-suiweringsaanleg.

Brink sê hy het met ’n vegsgemoed voor die begin van die raadsvergadering op Donderdagoggend aangekom.

“Wat ook al gebeur, ons moet nou politieke stabiliteit handhaaf sodat politieke leiers aanspreeklik vir hul prestasie by ’n verkiesing gehou kan word en sodat ons nie politieke speletjies speel wat dienslewering en die lewens van ons inwoners op die spel plaas nie.

“Ek het elke dag na hierdie kantoor gekom met ’n gevoel van optimisme. Ek voel baie bevoorreg om die mense van die hoofstad te kan dien, om ons te stuur na finansiële herstel, energie-onafhanklikheid en om mettertyd dienslewering te verbeter.”

ANC provinsiale sekretaris, Thembinkosi Nciza, sê die party verwelkom die verwydering van Brink.

“Die mosie, wat deur die meerderheid van die stadsraadslede ondersteun is, is deur die ANC-koukus geborg as ’n meganisme om die munisipaliteit van die wanadministrasie van die multiparty-regering onder die DA te red. Die DA het die stad deur ’n vernietigende pad van regressie en omkering van die winste van ons swaar-gewonne demokrasie gelei,” sê hy.

Hy voeg by dat sedert die multiparty-regering onder die DA aan bewind gekom het in 2016, het dit van die werk omgekeer wat dit vanaf die koalisie-regering onder die ANC wat dit voorafgegaan het oorgeneem het.

“Terwyl laasgenoemde ’n pro-arm ideologiehet wat streef om arm mense se lewens in die stad te verbeter aangeneem het, met formele en informele nedersettings wat spesifiek geteiken word vir ontwikkelingsprojekte, het die multiparty- regering onder die DA die posisie aangeneem om arm mense eenkant toe te slinger.

“Met die multiparty-regering onder die DA, het die munisipaliteit ongekende onstabiliteit in bestuur ervaar. In slegs die afgelope agt jaar het die DA vyf burgemeesters gehad, wat almal skandelik hul amp verlaat het, insluitend burgemeesterskomitees wat verskeie kere herskommel is.”

Hy sê nuwe leierskap kan nou na vore tree wat hulle vir Tshwane se mense se belange sal beywer.

Die voorsitter van ActionSA in Gauteng, Funzi Ngobeni, het die verwydering van ’n “gemiddelde DA-burgemeester”
verwelkom.

“Die beslissende stap wat vandag geneem is bring ’n einde aan ’n mislukte agtjarige heerskappy van die DA in Tswhane,” sê Ngobeni.

“Dit is presies omdat ons deel was van middelmatige bestuur dat ons verplig voel om in die belange van diegene wat dit verdien op te tree, dit wil sê alle Tshwane-inwoners.”

Hy sê die party is aan bewind sedert 2016 en dat dienslewering volgens inwoners sedertdien afgeneem het, veral in die nedersettings (townships) in vergelyking met die stadsareas.

“Dit is vir dié rede, en vir vele ander, dat ActionSA Tshwane stadsraadslede hande met die ANC en ander partye geneem het om die DA se uitvoerende burgemeester Brink uit te stem, en ons sal weer hande neem binne 14 dae om die nuwe uitvoerende burgemeester in te stem.”

DA Gauteng-leier Solly Msimanga sê die mosie is die laaste slag vir goeie bestuur in Tshwane.

“Vandag (26 September) sal in die geskiedenis aangeteken word as die dag dat ’n volkome verraaier ’n funksionele regering gesink het, en sodoende stabiliteit vir chaos verruil het.”

Hy het ActionSA geblameer dat hulle mag aan die ANC oorhandig.

“Die oordeelsdag-koalisie het nou vir Tshwane oorgeneem en dit gaan dieselfde paadjie volg as Johannesburg en Ekurhuleni. ’n Toekoms van stedelike afteruitgang en diensleweringmislukking wag vir Tshwane se goeie burgers.”

Hy sê dat die DA dinge fyn sal dophou.

“Die mense van Tshwane verdien beter as die onstabiliteit wat deur ego-gedrewe individue moontlik gemaak word, wat deur om hul te verraai ook sodoende Suid-Afrika verraai het.

“Die DA-koukus sal ons plek met trots inneem as die offisiële opposisie in Tshwane. Ons sal die gebroke bestuur verantwoordbaar hou.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button